Nuus 11:00
BULLETIN 4 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement win regshulp in oor die ontbinding van die Toerismeraad
# AfriForum verwelkom die verlenging van die openbare kommentaar oor die Bela-regulasies
# En rugby: Jesse Kriel is kaptein van die Springbokke in Saterdag se toets teen die All Blacks
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Toerisme sê hulle win ‘n regsmening in oor die ontbinding van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het haar besluit verdedig om die raad te ontbind en onwettige gedrag, prosedurele oortredings en roekelose finansiële bestuur as redes aangevoer. Sy word egter daarvan beskuldig dat sy bestuurs- en openbare finansiële bestuursbeleid ignoreer. Die voorsitter van die komitee, Ronalda Nalumango, het De Lille versoek om haar besluit te heroorweeg en die raad weer aan te stel.
# AfriForum verwelkom die regering se verlenging van die tydperk vir openbare kommentaar op die konsepregulasies vir die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Môre se sperdatum is verskuif na 5 Oktober. Alana Bailey van AfriForum sê die bykomende tyd sal belanghebbendes kans gee om deeglike insette oor skooltoelating- en vermoëns-reëls te lewer. Sy bevestig AfriForum sal kommentaar finaliseer om te verseker dat regulasies ooreenstem met die werklikhede van openbare skole:
Die DA in Gauteng sê intussen leerders is steeds blootgestel weens die beweerde skokkende versuim om onderwysers en personeel by skole te keur. Dit volg nadat onderwysers betrek is by bewerings van seksuele misbruik en onbehoorlike gedrag teenoor leerders van die Bronkhorstspruit Primary School en Prinshof-skool vir Blindes en Visueel Gestremdes. Sergio Isa dos Santos van die DA sê hulle sal vrae aan die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, rig om vas te stel watter stappe, indien enige, deur sy departement gedoen is om keuringsprosedures te versterk:
Nuus uit die buiteland:
# Slagoffers van Jeffrey Epstein steun ‘n tweeledige voorstel om al die lêers oor die ontslape veroordeelde seksoortreder vry te stel. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se Oorsigkomitee het Dinsdag 33-duisend bladsye en verskeie video’s oor hom openbaar gemaak. Die meeste van die lêers is egter reeds in die openbare domein. ‘n Slagoffer, Lisa Phillips, het voor die Capitol gesê hulle het begin om ‘n vertroulike lys van Epstein se medewerkers saam te stel wat hulle sê by die mishandeling betrokke was:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het Jesse Kriel aangewys as kaptein vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Nieu-Seeland, met Siya Kolisi op nommer 8. Eben Etzebeth keer terug na die beginspan vir sy 136ste toets, met Ruan Nortjé sy slotmaat. Pieter-Steph du Toit is terug op flank. Die enigste verandering in die agterlyn is die heelagter Willie le Roux wat in sy 101ste toets sal speel. Ethan Hooker sluit by die plaasvervangers Kwagga Smith en Cobus Reinach aan in ‘n vyf-drie-verdeling op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-481-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-536-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….