Nuus 11:00
BULLETIN 2 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê die ooreenkoms tussen Nersa en Eskom moet dringend hersien word
# Die adjunkkommissaris van polisie dien nog ‘n verklaring in om sy skorsing op te hef
# En rugby: Rassie gaan eers Donderdag sy span aankondig vir die kragmeting met die All Blacks
# Die DA sê hy het die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie, Queenie Mvana, gevra vir ʼn dringende hersiening van die skikkingsooreenkoms tussen Eskom en die energiereguleerder. Nersa het ‘n skikking van 54-miljard-rand met die kragvoorsiener buite die hof bereik ná foute in die berekening van tariewe. Kevin Mileham van die DA sê hierdie voorval beklemtoon die dringende behoefte dat die regering ʼn gemoderniseerde Nasionale Elektrisiteits-prysbeleid voltooi en instel:
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het ‘n aanvullende beëdigde verklaring by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om sy aansoek om heraanstelling te versterk. Dit volg op die besluit om 121 dossiere terug te besorg aan die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde. Kommissaris Fannie Masemola het Sibiya geskors omdat hy sy opdragte oor die ontbinding van die taakspan verontagsaam het. In die aanvullende verklaring beweer Sibiya dat Masemola se besluit oor die dossiere voortydig is en neerkom op inmenging met die Madlanga-kommissie se werk.
# Landwye Operasie Shanela-bedrywighede het die afgelope week tot die inhegtenisneming van 14-duisend-773 verdagtes gelei. Onder dié wat vasgetrek is, was drie-duisend-51 gesoekte persone wat in verskillende dele van die land opgespoor is. Hulle is gesoek weens moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Altesaam 119 moordverdagtes is vasgetrek, die meeste van hulle in Gauteng en die Wes-Kaap. Die polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê hulle het ook beslag gelê op 163 ongelisensieerde vuurwapens:
Nuus uit die buiteland:
# Die hoof van die Europese Sentrale Bank, Christine Lagarde, waarsku indien president Donald Trump die onafhanklikheid van die Amerikaanse Federale Reserweraad sou ondermyn, dit ‘n baie ernstige gevaar vir die wêreldekonomie sal inhou. Die raad se taak is hoofsaaklik om werk te bevorder, pryse bestendig te hou en rentekoersbeleide in te stel. Trump het herhaaldelik gesê hy wil verlagings in rentekoerse hê om ekonomiese groei te bevorder en sy regering se leenkoste te verlaag. ‘n Verlaging word later hierdie maand verwag.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sal na verwagting eers Donderdag sy groep aankondig vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die All Blacks in Auckland. Hy wag steeds op nuus oor die beseerde kaptein, Siya Kolisi, en die veteraan Willie le Roux. Die ervare skrumskakel Faf de Klerk is die naweek na Nieu-Seeland ontbied nadat die haker Bongi Mbonambi verkies het om tuis te bly om na gesins-aangeleenthede om te sien. Erasmus sê hulle is nie seker wat om van die All Blacks te verwag nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60 sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-78 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-323 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-485-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….