Nuus 11:00
BULLETIN 29 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê verantwoordbare en etiese instellings is nodig om korrupsie te beveg
# Shamila Batohi sê die vervolging van staatskapingsmisdade sal tyd neem
# En Frankryk, Duitsland en Brittanje wil die Verenigde Nasies se sanksies teen Iran herinstel oor sy kernprogram
# President Cyril Ramaphosa sê die land moet deursigtige, betroubare en etiese privaat en openbare instellings bou waar korrupsie nie kan wortel skiet nie. Hy het die sluitingsverslag van die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad ontvang. Die raad is in September 2022 gestig om die instel van Nasionale Teenkorrupsie-strategie te lei en onder meer raad te gee oor hoe die staat sy teenkorrupsie-strategie kan bou. Ramaphosa sê die sukses van die pogings om korrupsie te beveg berus op die regering se vermoë om dit in die eerste plek te voorkom.
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê staatskapingsake sal tyd neem. Skuldigbevindings het wel verbeter, maar die Nasionale Vervolgingsgesag se werk word in die skadu gestel deur ‘n gebrek aan skuldigbevindings in staatskapingsake, byna drie jaar nadat die Zondo-kommissie se verslag afgehandel is. Batohi het tydens ‘n paneelbespreking van Daily Maverick gesê sy maak geen verskonings nie, maar die publiek moet verstaan dat hierdie vervolgings ingewikkeld is:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê die aanlyn skooltoelatings-aansoeke vir graad 1 en graad 8 vir 2026 sluit vandag om middernag. Teen gisteraand is altesaam 800-duisend-530 aansoeke vir die twee grade otvang. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê 52-duisend-929 onvoltooide aansoeke is ontvang, insluitend van ouers wat geregistreer het maar nog nie skole gekies het nie:
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk, Duitsland en Brittanje het met die proses begin om die Verenigde Nasies se sanksies teen Iran weer in te stel om sy kernprogram in toom te hou. Dis in 2015 opgehef. Die nuwe sanksies sluit in die bevriesing van bates, opskorting van wapenooreenkomste en die beperking van enige ontwikkeling van Iran se ballistiese missielprogram. Die drie Europese lande, bekend as die E3, sê die kernprogram bly ‘n bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid. Iran se Ministerie van Buitelandse Sake het die stap gekritiseer as uitdagend en onnodig.
# Rugby: Kaptein Victor Sekekete hoop om die Cheetahs in sy 100ste wedstryd te lei na ‘n oorwinning oor Griekwas in vanmiddag se Curriebekerwedstryd in Bloemfontein. Hy beskryf die mylpaal as ‘n droom wat verwesenlik is en sê ‘n oorwinning sal die kersie op die koek wees. Albei spanne het vier van hul vyf vorige wedstryde gewen, met die Cheetahs boaan die punteleer en die besoekers derde. Sekekete sê hulle het hul foute reggestel nadat hulle die Leeus verlede naweek amper toegelaat het om terug te kom in die wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-956-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-411-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….