Nuus 11:00
BULLETIN 8 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil ‘n meer gebalanseerde handelsverhouding met Amerika hê
# Minister Motsoaledi kritiseer die rassediskriminasie in mediese skemas
# En Netanyahu benoem Trump vir die Nobelprys vir Vrede
# President Cyril Ramaphosa sê die 30-persent handelstarief wat Amerika op Suid-Afrikaanse uitvoere gaan instel, is nie ‘n ware voorstelling van beskikbare handelsdata nie. Hy sê 56-persent goedere kom Suid-Afrika binne teen ‘n nul-persent-tarief as begunstigde nasie en 77-persent Amerikaanse goedere word met nul-persent-invoerbelasting ingevoer. Die president verwelkom dit dat die Amerikaanse regering sê die tariewe kan aangepas word. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal voortgaan met diplomatieke pogings vir ʼn meer gebalanseerde en wedersyds-voordelige handelsverhouding met Amerika.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê hy is vol vertroue dat die Nasionale Tesourie se begroting vandag in die Parlement aanvaar sal word. Dit sal die departement se prestasies, vordering en jaarlikse dienslewering uiteensit wat die jaarlikse prestasieplan vir die komende jaar weerspieël. Godongwana het aan Newzroom Afrika gesê hy is meer gefokus op die 23ste se belangrike stemmery oor die Wetsontwerp op die Begroting:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê daar is geen plek vir diskriminasie in die gesondheidsorgsektor nie. Dit volg ná ‘n Artikel 59-verslag deur advokaat Tembeka Ngcukaitobi, wat mediese skemas soos Discovery en die mediese fonds vir staatsamptenare se rassepartydigheid teen swart gesondheidsorgverskaffers bevestig. Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers veroordeel die verslag as gebrekkig en onwetenskaplik. Die verslag, gegrond op ‘n klagte in 2019, het onbillike bedrogsondersoeke aan die lig gebring. Die minister noem die bevindings skandelik en eis dringende hervorming ná 30 jaar van demokrasie:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het president Donald Trump van Amerika vir die Nobel-prys vir Vrede benoem. Die twee leiers het gister in Washington ontmoet, die eerste keer sedert Amerika se aanvalle op Iran se kernprogram. Netanyahu het Trump se pogings geloof om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig en sê hy verdien die prys. Pakistan het verlede maand gesê hy sal Trump vir die prys aanbeveel vir sy aandeel om die onlangse konflik met Indië op te los.
# Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, sê die snelbouler Jofra Archer is beskikbaar vir insluiting in die span vir die derde toets teen Indië wat Donderdag op Lord’s begin. Die 30-jarige Archer het in Februarie 2021 laas in ‘n toets gespeel weens ‘n reeks beserings aan sy elmboog en lae-rug. Die reeks is gelykop nadat Indië die gashere met 336 lopies verslaan het in die tweede toets op Edgbaston. McCullum sê almal weet waartoe Archer in staat is, en hy hoop hy kan sy spelpeil herwin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74 sent teen die dollar, 20-rand-86-sent teen die euro en 24-rand-19 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-231-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-24 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….