Nuus 11:00
BULLETIN 29 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en UAT sluit aan by ‘n Konstitusionele Hof-aansoek oor Ramaphosa se ampsklagproses
# ‘n Lugvaartkenner waarsku die Kaapstadse lughawe bereik sy volle vermoë
# En rugby: Erasmus is verheug om spelers soos Kolisi en Etzebeth beskikbaar te hê vir die kragmeting met Argentinië
# Die MK-party en United Africans Transformation het aangesluit by die African Transformation Movement en die EFF se regstreekse appèlaansoek na die Konstitusionele Hof teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se toestaan van ‘n interdik aan president Cyril Ramaphosa om die ampsklagproses te staak. Andile Mngxitama van die MK-party het aan Newzroom Afrika gesê die Parlement moet kan vasstel of daar rede is vir ‘n ampsklag ingevolge Artikel 89 van die Grondwet:
# AfriForum sê die pas-vrygestelde Nasionale Water-aksieplan bevestig dat Suid-Afrika se waterkrisis veroorsaak word deur mislukte munisipaliteite, verwaarloosde infrastruktuur, swak finansies en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid. Die plan stel omvattende hervormings voor. Munisipaliteite verloor byna die helfte van die water wat deur hul stelsels gepomp word. Lambert de Klerk van AfriForum sê die land het nie ʼn tekort aan planne om die waterkrisis te hanteer nie, maar eerder ʼn gebrek aan aanspreeklikheid:
# ‘n Lugvaartkenner sê die Kaapstadse Internasionale Lughawe is gedurende spitstye byna by sy volle vermoë namate passasiergetalle aanhou groei. Die voormalige lugverkeerbeheerder Rob Russell sê die toenemende druk op aanloopbane, vliegtuigstaanplekke en terminaalgeriewe veroorsaak vertragings en opeenhopings. Hy sê beplande infrastruktuur-opgraderings moet versnel word. Russell waarsku daar is geen kitsoplossing nie, aangesien dit tot drie jaar kan neem om ‘n nuwe aanloopbaan te voltooi. Hy voeg egter by dat veiligheid nie in gedrang is nie, ondanks die toenemende druk.
Nuus uit die buiteland:
# Sowat drie-duisend-600 militêre personeellede is ontplooi om reddings- en verligtingspogings te verhaas ná die aardbewing van 6,8 wat Japan gister getref het. Dertien mense is dood en ʼn onbekende getal is vasgekeer in die Aeon-winkelsentrum in Kumamoto. Nege mense word in die Nippon-papierfabriek in Yatsushiro-stad vermis. Ongeveer twee-duisend polisiebeamptes en ʼn duisend brandweer-personeellede is ook ontplooi om met die reddingspogings te help. Eerste minister Sanae Takaichi sê dis waarlik ʼn wedloop teen tyd.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê byna die volle groep is fiks vir volgende naweek se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires. Ox Nché en Franco Mostert is nie deel van die span vir Suid-Amerika nie, maar spelers soos kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu is terug na beserings. Ses-en-twintig Springbokke vertrek Saterdag. Erasmus sê die fokus is nou heeltemal op Los Pumas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-341-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-44-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….