Nuus 11:00
BULLETIN 7 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA wil hê die Spesiale Ondersoekeenheid moet die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris se bewerings ondersoek
# Die GOOD-party wil hê minister Macpherson moet die verslag oor die gebou-ramp in George vrystel
# En rugby: Die Britse en Ierse Leeus sal teen ‘n sterk Australies-Nieu-Seelandse uitnodigingspan uitdraf
# Build One South Africa vra president Cyril Ramaphosa om binne 30-dae ʼn ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid in te stel na die bewerings van KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy het tydens ʼn nuuskonferensie bewerings gemaak van politieke inmenging, insluitend deur die minister van Polisie, Senzo Mchunu, in sommige hoëprofiel-misdaadsake. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die Parlement moet Mkhwanazi, Mchunu en ander betrokke ampsdraers onmiddellik voor die portefeuljekomitee vir Polisie daag:
ActionSA het die Parlement se speaker, Thoko Didiza, intussen gevra vir ʼn dringende debat oor die krisis in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die groter strafregstelsel. Dereleen James van ActionSA sê die bewerings is een van die kommerwekkendste aanklagte teen die staat se sekerheidsinstellings:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap vra die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, om die Raad vir die Bou-Omgewing se finale verslag oor die instorting van ‘n gebou in George onmiddellik vry te stel. Vier-en-dertig mense is dood toe ‘n vyfverdieping-woonstelgebou in aanbou in Mei verlede jaar ingetuimel het. Chantelle Kyd van GOOD sê die tragedie kan nie toegelaat word om dieselfde patroon van vertraging en ontduiking te volg wat ander ondersoeke gekenmerk het nie:
# ʼn Jurie van 12 lede het die Australiese vrou, Erin Patterson, skuldig bevind op drie aanklagte van moord. Sy het in Julie 2023 aan haar vervreemde man se ouers, Don en Gail Patterson, en sy tante, Heather Wilkinson, gebakte beessteak voorgesit wat giftige sampioene bevat het. Sy is ook skuldig bevind aan poging tot moord op Wilkinson se man. Aanklaers voer aan Patterson het geweet die sampioene is giftig. Patterson sê dit was ʼn tragiese ongeluk. Sy moet binne 28 dae appelleer.
# Rugby: Afrigter Les Kiss het ‘n sterk Australies-Nieu-Seelandse uitnodigingspan gekies om Saterdag in Adelaide teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Die groep sluit in agtien toetsspelers wat gesamentlik in 300 wedstryde gespeel het. Hulle sluit in die All Blacks David Havili, Shannon Frizell en Hoskins Sotutu en die Wallabies Marika Koroibete, Pete Samu en Lukhan Salakaia-Loto. Kiss sê baie werk is agter die skerms gedoen om die span op te bou en dit is opwindend om die vordering te sien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-794-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….