Nuus 11:00
BULLETIN 6 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# POPCRU sê lyfstraf het geen plek in ‘n demokratiese korrektiewe stelsel nie
# Tennis: Die verdedigende kampioen Barbora Krejčíková is in trane toe sy by Wimbledon uitgeskakel word
# En laastens, Ozzy Osbourne sê totsiens
# Die polisie- en gevangenisvakbond, POPCRU sê hulle verwerp ten sterkste die idee om geweld as ‘n instrument van regstelling by korrektiewe instellings te gebruik. Vakbondwoordvoerder, Richard Mamabolo, het gereageer op die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, se beroep vir die herinstelling van lyfstraf in korrektiewe sentrums. Mamabolo sê die voorstel is nie net ongrondwetlik nie, maar ook gevaarlik, roekeloos en ‘n regstreekse skending van menseregte en internasionale korrektiewe standaarde:
# Die Wes-Kaapse Provinsiale Rampbestuursentrum bly op hoë gereedheidsgrondslag terwyl slegte weersomstandighede voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het bevestig dat nog koue, nat en winderige weer op pad is, met reënval van tien- tot 20-millimeter wat in verskeie gebiede verwag word, veral in bergagtige streke. Die woordvoerder van die Departement van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Wouter Kriel, sê daar is verskeie ingrypende voorvalle in die Stad Kaapstad aangeteken:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het sterk optrede belowe ná ‘n voorval van oënskynlike brandstigting by ‘n sinagoge in Melbourne. Die polisie soek na ‘n man wat Vrydagaand vloeistof op die sinagoge se voordeur gegooi het voordat hy dit aan die brand gesteek het. Sowat 20 mense wat binne geëet het, is sonder enige beserings ontruim. Die polisie probeer ook vasstel of die voorval gekoppel is aan ‘n aanval op ‘n Joodse restaurant in die stad dieselfde aand. ‘n Aantal teen-Semitiese aanvalle het onlangs in Australië voorgekom, aangevuur deur spanning oor die Israel-Hamas-oorlog.
# Sportnuus:
# Rugby: Die hoofafrigter van die Britse en Ierse Leeus, Andy Farrell, het erken dat hy gefrustreerd is na sy span se oorwinning van 21-10 teen die Waratahs gister, maar sê hulle sal daaruit leer. Die Leeus het gesukkel om aan te pas by die Waratahs se styl, ten spyte daarvan dat die tuisspan ‘n aantal sleutelspelers moes afstaan vir Australië se wedstryd vandag teen Fidji. Die Leeus speel Woensdag in Canberra teen Australië se beste Superrugby-span, die Brumbies, in die vierde wedstryd van hul toer. Hulle speel drie toetse teen Australië, met die eerste op 19 Julie in Brisbane.
# En tennis: Barbora Krejčíková se heerskappy as Wimbledon-kampioen het gister tot ‘n tranerige einde gekom toe die Tsjeg ‘n nederlaag teen die Amerikaanse tiende gekeurde Emma Navarro gely het. Krejčíková het gesukkel met ‘n besering en het op die hoofbaan in trane uitgebars toe Navarro gewen het. Dit is die jongste skok in die vrouetoernooi waar vyf van die top ses gekeurde spelers vanjaar reeds die knie moes buig. Die tweemalige Grand Slam-kampioen het ‘n moeilike tyd deurgemaak sedert sy verlede jaar Jasmine Paolini van Italië in die Wimbledon-eindstryd geklop het.
# En ten slotte: Ozzy Osbourne het met Black Sabbath herenig vir ‘n laaste optrede en emosionele ware metal-afskeid. Back To The Beginning by die Villa Park-stadion was die “laaste buiging” vir die man wat vereer word as ‘n stigter van heavy metal. Osbourne het jare reeds gesondheidsprobleme, insluitend Parkinson se siekte. Hard rock-bekendes soos Metallica en Steven Tyler was saam met hom op die verhoog, terwyl huldeblyke van vriende en ander bekendes op die skerm gespeel is. Black Sabbath, een van die suksesvolste metal-groepe van alle tye, het meer as 75-miljoen albums wêreldwyd verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….