Nuus 11:00
BULLETIN 3 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis die onmiddellike skorsing van polisiebeamptes wat by ernstige misdaad betrek word
# Oekraïne vrees toenemende Russiese aggressie nadat Amerika sy wapenvoorsiening staak
# En tennis: Jasmine Paolini is die jongste ster wat op Wimbledon uitgeskakel word
# Die DA sê hy ondersteun die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, se oproep dat alle polisielede wat by misdade betrek word, aangekeer of aangekla word. Dianne Kohler Barnard van die DA sê hulle gaan van die minister van Polisie, Senzo Mchunu, eis dat al sulke lede onmiddellik geskors en hul polisieklaring opgehef word om te keer dat hul toegang kry tot vuurwapens, sensitiewe stelsels en bedrywighede:
# Die Vryheidsfront Plus in Ekurhuleni verwelkom die metro se aankondiging dat inwoners wat op 1 Julie verkeerde tariewe betaal het, ‘n terugbetaling sal ontvang. Die party sê dit het gebeur weens ‘n tegniese fout in die stelsel. Denise Janse van Rensburg van die party sê die mees omstrede kwessie is die verkeerde basiese tarief van 142-rand-50, wat vooraf vir elektrisiteitsaankope afgetrek is, wat beteken dat inwoners minder eenhede ontvang het as waarop hulle geregtig was:
# Oekraïne waarsku ʼn onderbreking in Amerikaanse wapenbesendings sal Rusland aanmoedig om die oorlog te verleng, wat al langer as vier jaar duur. Die Withuis het vroeër gesê hy het sommige wapenbesendings gestaak. Woordvoerder Anna Kelly sê daar is besluit om Amerikaanse belange eerste te stel ná die Departement van Verdediging se hersiening van militêre ondersteuning aan ander lande. Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, sê die twee lande bespreek nou besonderhede oor voorrade. Die ministerie van Buitelandse Sake sê Kiëf moet sy lugafweer-afdeling versterk.
# Tennis: Verlede jaar se naaswenner, Jasmine Paolini, is die jongste ster wat op Wimbledon uitgeskakel is. Nege van die tien topgekeurde mans- en vrouespelers is binne die eerste twee dae uitgeskakel. Die tweede-gekeurde Coco Gauff, die derde-gekeurde Jessica Pegula en die vyfde-gekeurde Zheng Qinwen het almal in die eerste ronde verloor, en die vierde-gekeurde Paolini in die tweede ronde. In die mansafdeling is 13 gekeurde spelers reeds uitgeskakel. Die 12de-gekeurde Amerikaner, Frances Tiafoe, is die jongste slagoffer nadat hy teen die wêreld-nommer-61, Cameron Norrie, verloor het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52 sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-95 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-281-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-270 sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-8-sent per vat.
# En ter afsluiting. Die Gautengse Gesondheidsdepartement bied vandag en môre die derde Beroerte-rehabilitasie-navorsingskonferensie in Braamfontein aan. Beroerte is een van die top drie nie-oordraagbare siektes, met meer as 32-duisend gevalle wat na fisioterapie verwys word en meer as 105-duisend opvolg-ondersoeke sedert 2019. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die konferensie pleit vir gevorderde beroerte-rehabilitasie deur vernuwing, integrasie en ingryping. Hy beklemtoon die geleentheid beoog om beroerte-versorging deur die uitruiling van kennis te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….