Nuus 11:00
BULLETIN 30 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se kantoor vir Jong Vroue vra die regering om in te gryp in die bekamping van geslagsgeweld
# Die DA in die Vrystaat vra dringende optrede na ‘n wrede plaasaanval naby Kestell
# En die Iranse minister van Buitelandse Sake sê Amerika moet beloof om sy aanvalle te staak voor onderhandelings
# Die ANC se kantoor vir Jong Vroue het die pandemie van geslagsgeweld en vrouemoord in al sy vorme veroordeel. Nkanyezi Thabethe van die ANC het verwys na die onlangse moord op twee graad 12-leerders van die Oos-Kaap, Sinothando Malinga en Ibanathi Peter. Sy sê die twee meisies is dood ná ‘n onskuldige besluit oor ontspanningsbedrywighede, waarna hul liggame aan die brand gesteek is:
# Altesaam 343 verdagtes is die naweek in Cullinan en Boschkop in Gauteng vasgetrek vir verskeie oortredings tydens Operasie Shanela. Polisiewoordvoerder Johan van Dyk sê die misdade wissel van geslagsgeweld, moord, poging tot moord, gewapende roof en aanranding tot verkragting. Hy sê 22 onwettig buitelandse burgers is aangekeer en sal gedeporteer word:
# Die DA in die Vrystaat sê hy is geskok oor die wrede aanval op ‘n boer in die omgewing van Kestell. Die party sê die aanval het plaasgevind ‘n paar maande nadat twee mans skuldig bevind is aan die moord op sewe mense op die plaas Lismore in dieselfde distrik. Leona Kleynhans van die DA sê die party vra die regering om sy veiligheidstrategie in werking te stel om plaaseienaars en -werkers te beskerm:
# Teheran se adjunkminister van Buitelandse Sake, Majid Takht-Ravanchi, sê Amerika moet enige verdere aanvalle op Iran uitskakel as hy diplomatieke onderhandelings wil hervat. Die Trump-administrasie het vir Iran gesê hy wil weer onderhandel, maar nie sy posisie oor aanvalle tydens onderhandelings uitgestippel nie. Amerika het verlede naweek regstreeks by die konflik tussen Israel en Iran betrokke geraak toe hy drie Iranse kernaanlegte gebombardeer het. Takht-Ravanchi het ook gesê Iran sal daarop aandring om uraan te verryk vir wat hy as vreedsame doeleindes bestempel.
# Sokker: Paris Saint-Germain het Lionel Messi se span, Inter Miami, 4-0 verpletter om die kwarteindronde van die Klub-Wêreldbekertoernooi te haal. Afrigter Luis Enrique sê dit was nogal moeilik om Miami te klop. Die Spanjaard sê PSG se spelpeil is tans uitstekend en hulle hoop om in Amerika te seëvier. Inter Miami se afrigter, Javier Mascherano, sê hy is tevrede met sy span se vertoning en voeg by Messi kon sy staal toon ondanks die nederlaag. PSG speel Saterdag teen Bayern Munich vir ʼn plek onder die laaste vier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73 sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 24-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-677-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-291-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….