Nuus 11:00
BULLETIN 29 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die DA moet die presidentskap respekteer of die regering verlaat
# Die Wes-Kaapse polisie soek na twee mans na ‘n massaskietvoorval in Gugulethu
# En, nog twee mans is in hegtenis geneem oor skade aan vliegtuie by ‘n Koninklike Lugmagbasis in Brittanje
# Die EFF-leier Julius Malema het die DA gekritiseer vir hul ultimatum aan president Cyril Ramaphosa oor die ontslag van die adjunkminister van Handel en Nywerheid, Andrew Whitfield. Malema sê die DA moet regeringsprotokol en die presidentskap respekteer. Hy voer aan die DA se klagtes is ongeregverdig, gegewe hul keuse om ‘n koalisie met die ANC te vorm. Hy sê as die DA werklik korrupsie teenstaan, moet hulle die regering verlaat en by die opposisie aansluit:
# Die Wes-Kaapse polisiekommissaris Thembisile Patekile het die massaskietery in Gugulethu veroordeel nadat sewe mans dood aangetref is by ‘n huis in die Kanana informele nedersetting. Patekile sê die polisie soek na twee mans wat met die moorde verbind word. Die kommissaris sê die slagoffers tussen die ouderdomme van 26 en 30 is na bewering in ‘n lokval gelei is terwyl hulle in die kombuis gekuier het. Drie ander in die huis het ongedeerd weggekom:
Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die voorval ook veroordeel. Mchunu het die Kaapse Vlakte as die moordvelde van die Wes-Kaap beskryf. Hy het die polisie aangespoor om roetinemetodes te laat vaar en strategiese planne ten volle te implementeer. Operasie Shanela 2 is nou van stapel gestuur om onwettige vuurwapens, dwelms en geslagsgeweld te teiken. Die minister eis dringende en besliste optrede, en beklemtoon dat die polisie gemeenskappe moet beskerm met al die hulpbronne tot sy beskikking.
# ‘n Ontbinde liggaam van ‘n onbekende man is Woensdag onder die dakteëls van die Hazyview-polisiestasie in Mpumalanga, gevind nadat ‘n slegte reuk opgemerk is. Donald Mdhluli van die Polisie sê daar is aanvanklik gedink dit was ‘n dooie dier maar die liggaam is ontdek toe van die dakteëls verwyder is. Voorlopige verslae dui op ‘n elektriese skok nadat gereedskap op die dak gevind is. Die polisie is besig met ‘n ondersoek oor hoe die man daar gekom het.
# Die Britse polisie sê nog twee Londense mans van onderskeidelik 22 en 24 is gister in hegtenis geneem op aanklagte van die oortreding van die land se Terrorismewet. Dit volg na ‘n voorval op 20 Junie by die Koninklike Lugmagbasis in Oxfordshire toe twee militêre vliegtuie deur ‘n pro-Palestynse aktivistegroep, Palestine Action, beskadig is. Die Britse eerste minister Keir Starmer het die vandalisme as skandelik veroordeel. Die minister van Binnelandse Sake, Yvette Cooper sê Palestine Action sal as ‘n terroriste-organisasie verbied word na die voorval by die lugmagbasis Brize Norton.
# En sokker: Chelsea het ‘n Benfica-span bestaande uit net tien spelers geklop danksy drie laat doele in ekstra tyd in ‘n uitsonderlike Klubwêreldbeker-wedstryd in die ronde van 16 wat meer as vier uur geduur het. Spel is vir byna twee ure gestaak weens swaar weerlig- en donderstorms. Chelsea is deur na die kwarteindronde na doele deur Christopher Nkunku, Pedro Neto en Kiernan Dewsbury-Hall in die tweede helfte van ekstra tyd in Charlotte, Noord-Carolina. Hulle kom Vrydag teen Palmeiras te staan in die kwarteindronde in Philadelphia.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….