Nuus 11:00
BULLETIN 26 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Afvaardiging van Afrikanerleiers vergader met senior amptenare van die Withuis
# Rise Mzansi eis aanspreeklikheid vir die Padongelukkefonds-skandaal
# En atletiek: ‘n Keniaanse Olimpiese kampioen stel haar visier op die eerste vroue-myl onder vier minute
# ‘n Senior afvaardiging van Afrikaner-leiers het ʼn hoëvlak-vergadering met senior amptenare van die Withuis in Washington gehou. Die afvaardiging het bestaan uit die leier van die Vryheidsfront Plus, Corné Mulder, die uitvoerende raadsvoorsitter van die Suider-Afrikaanse Agri-insiatief, Theo de Jager, en die uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, Gerhard Papenfus. Die amptenare het die voorvereistes vir die normalisering van bilaterale betrekkinge uiteengesit. Dit sluit in dat plaasaanvalle tot voorkeur-misdaad verklaar word en dat geen onteiening sal plaasvind sonder vergoeding teen markwaarde nie.
# Rise Mzansi sê die misbruik van openbare fondse en onetiese leierskap moet tot ‘n einde kom. Die party verwelkom die parlementêre staande komitee oor Openbare Rekeninge se ondersoek na die skandaal van 50-miljard-rand by die Padongelukkefonds, wat aantygings van wanadministrasie, roekelose besteding en finansiële wangedrag insluit. Makashule Gana van Rise Mzansi moedig die komitee aan om alles moontlik te doen om individue en instellings aanspreeklik te hou:
# Die Wes-Kaapse regering verwelkom ‘n vredesooreenkoms tussen die taxi-verenigings CATA en CODETA om ‘n oplossing te vind vir die konflik oor die roetes tussen Mfuleni en Somerset-Wes en Khayelitsha en Somerset-Wes. Dit word beskou as ‘n belangrike stap om die veiligheid en betendigheid in openbare vervoer te herstel. Die LUR vir Beweeglikheid, Isaac Sileku, het die twee organisasies geloof omdat hulle pendelaars eerste stel en sê die ooreenkoms bewys die belangrikheid van dialoog en gesamentlike leierskap om die provinsie se vervoertoekoms te beskerm.
# Die Verenigde Nasies sê geweld teen kinders in situasies van gewapende konflik het verlede jaar ongekende vlakke bereik. Die jongste verslag oor Kinders en Gewapende Konflik het 41-duisend-370 ernstige oortredings teen kinders bevestig waarvan meer as 36-duisend in 2024 gepleeg is. Die sekretaris-generaal se spesiale verteenwoordiger vir kinders en gewapende konflik, Virginia Gamba, sê baie oortredings vind plaas in tye van konflik, maar ernstige skendings gebeur selfs daarna:
# Atletiek: Kenia se driemalige Olimpiese kampioen in die een-duisend-500-meter, Faith Kipyegon, gaan vanaand in Parys, Frankryk, probeer om die eerste vrou te word wat die myl in onder vier-minute hardloop. Nike se “Breaking4”-projek volg op die sukses van Kipyegon se landgenoot, Eliud Kipchoge, se nie-amptelike marathon van onder twee-uur. Nike glo haar gevorderde hardloopskoene, wat net 85-gram weeg, sal haar ‘n baie goeie kans gee. Kipyegon, wat deur pasaangeërs gehelp sal word, moet haar eie wêreldrekord oor die afstand in 2023 met meer as sewe sekondes verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-91-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….