Nuus 11:00
BULLETIN 24 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag vrae beantwoord in die Nasionale Raad van Provinsies
# President Trump verwerp ‘n verslag dat Iran se kernprogram nie vernietig is in Amerikaanse aanvalle nie
# En rugby: Rassie Erasmus prys die nuweling Asenathi Ntlabakanye wat Saterdag sy buiging vir die Bokke kan maak
# President Cyril Ramaphosa sal vandag mondelinge vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord. Hy sal ‘n reeks vrae hanteer, insluitend die maatskaplike ooreenkoms om die ekonomie te herbou, jeugwerkloosheid, tekortkominge in begrotingsbestuur, dienslewering in munisipaliteite en swart ekonomiese bemagtiging. Die Presidensie sê Ramaphosa se betrokkenheid by die NRP gee uitvoering aan verantwoordbaarheid van die uitvoerende gesag teenoor die wetgewer.
# AfriForum het die Spesiale Ondersoekeenheid, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag gevra om inligting oor korrupsie, verkrygingsbedrog en ander finansiële oortredings in die Departement van Water en Sanitasie bekend te maak. Die Valke het onlangs aan die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die departement is betrokke in agt hofsake van korrupsie, verkrygingsbedrog en oortredings van finansiële wette. Lambert de Klerk van AfriForum sê die beweerde verliese in ses van dié sake beloop meer as 737-miljoen rand:
# Die GOOD-party het die nuus verwelkom dat die Valke die bewerings ondersoek in die voorlopige Vermaak-verslag oor verkrygingsprosedures in die Swellendam-munisipaliteit in die Wes-Kaap. Die verslag bevat ‘n uiteensetting van ingewortelde korrupsie en belangebotsings waarby senior amptenare betrek word, insluitend die munisipale bestuurder, finansiële hoof en die voorsieningsketting-bestuurder. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die verwikkelinge is ‘n belangrike oomblik vir aanspreeklikheid en geregtigheid:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, verwerp berigte dat ‘n uitgelekte intelligensie-verslag daarop dui dat Amerika se aanvalle op Iran nie die noodsaaklike onderafdelings van sy kernprogram vernietig het nie. Die verslag deur die Pentagon se Verdedigingsintelligensie-agentskap sê Iran se voorraad verrykte uraan is nie vernietig in Saterdag se aanvalle. Trump het op Truth Social kritiek gelewer op nuusnetwerke wat volgens hom probeer om een van die suksesvolste militêre aanvalle in die geskiedenis af te kraak. Hy voer steeds aan dat drie kernkraginstellings in Iran perfek getref en vernietig is.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het die vaskopstut Asenathi Ntlabakanye se toewyding geloof, wat tot sy insluiting in die nasionale span gelei het. Die 26-jarige Ntlabakanye is een van vier nuwe spelers in die Bok-groep wat die Barbarians Saterdag in Kaapstad pak. Sy ontwikkeling het intensiewe oefeninge ingesluit op die skrumafrigter, Daan Human, se plaas naby Bloemfontein, waar hy op kondisionering en tegniese skrumwerk gefokus het. Erasmus sê Ntlabakanye se toewyding het ‘n dramatiese fisieke verandering meegebring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-en-42-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….