Nuus 11:00
BULLETIN 24 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF gaan ’n wetsontwerp indien om die regering se onbeheerde leningsmagte in te perk
# Soek- en reddingspogings word in die Oos-Kaap voortgesit terwyl die dodetal tot 95 styg
# En president Trump sê die skietstaking tussen Israel en Iran is in werking
# Die EFF het die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, versoek om ‘n privaat lid-wetsontwerp, die Wysigingswetsontwerp op Openbare Finansiële Bestuur, in te dien. Dit wil die bestaande wet wysig om die uitvoerende gesag se magte te reguleer om van internasionale finansiële instellings te leen. Die party sê die wetsontwerp is gemik op die inperking van die regering se onbeheerde leningsbevoegdhede en die versterking van parlementêre toesig oor nasionale skuld. Hy sê dis gegrond op die grondwetlike beginsels van deursigtigheid, verantwoordbaarheid en gesonde finansiële bestuur.
Die Instituut vir Rasseverhoudings maan die Parlement intussen om die Begrotingswetsontwerp te bekragtig, wat swart bemagtigingspremies in staatsverkryging ter waarde van 82-miljard-rand tot nul sal verlaag. SEB-premiums is die ekstra geld wat op grond van ras vir identiese goedere en dienste betaal moet word. Dit staan tans op 25-persent vir kontrakte onder 50-miljoen-rand. Gabriel Crouse van die instituut sê die gevaar is egter dat die Parlement die wet bekragtig, maar dit nie instel nie:
# Die dodetal in die Oos-Kaapse oorstromings het tot 95 gestyg terwyl soek- en reddingsoperasies met behulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag voortduur. Ses-en-tagtig van die liggame wat gevind is, is deur gesinne uitgeken en die proses gaan voort om die res te identifiseer. Die provinsie se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê regeringsinstellings en nie-regeringsorganisasies se ondersteuning was van hulp:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê ‘n skietstilstand tussen Israel en Iran is tans van krag en hy maan die twee lande om dit nie te skend nie. Dit is ondanks vier Israelse burgers wat vanoggend in Iranse missielaanvalle dood is. Volgens berigte het Trump die skietstilstand bewerkstellig deur met Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, te onderhandel terwyl sy span, insluitend visepresident JD Vance, met Teheran gepraat het. Iran se staatsmedia het ook berig dat die skietstilstand begin het.
# Sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, het ‘n finale span van 26 spelers aangekondig vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat volgende Saterdag in Marokko begin. Slegs 14 was in die span wat die toernooi drie jaar gelede gewen het. Die 17-jarige Casey Gordon en Bonolo Mokoma van die JVW-klub in Bedfordview is die jongste spelers in die groep. Suid-Afrika speel in Groep C teen Ghana, Mali en Tanzanië. Ellis sê dit was ‘n uitdaging om die finale span te kies:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-650-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….