Nuus 11:00
BULLETIN 23 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassadeur by die VN waarsku Iran teen vergelding
# Die GOOD-party sê daar is ‘n dringende behoefte aan wêreldwye aanspreeklikheid vir die Midde-Oosterse konflik
# En president Ramaphosa sê die land se demokratiese bestel is geanker in ‘n vooruitstrewende Grondwet
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Dorothy Shea, waarsku dat enige Iranse aanval op Amerikaanse burgers of basisse verwoestende gevolge sal ontlok. Die spanning in die Midde-Ooste het die naweek skerp toegeneem nadat Amerika drie Iranse kernaanlegte aangeval het. Shea het aan die VN se Veiligheidsraad gesê die Iranse regering is die afgelope 40 jaar ‘n volgehoue bedreiging vir die vrede en sekerheid van sy bure, Amerika en die hele wêreld:
Die GOOD-party sê intussen Amerika en ander wêreldmagte het ʼn morele en regsverpligting om internasionale reg te laat geld en dit nie volgens strategiese belange toe te pas nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die party herhaal president Cyril Ramaphosa se oproep vir ʼn onmiddellike skietstilstand en ’n vreedsame oplossing vir die toenemende konflik in die Midde-Ooste:
# Ramaphosa sê intussen Suid-Afrika se demokratiese orde is gesond en geanker in ‘n vooruitstrewende Grondwet en ‘n Konstitusionele Hof wat almal se regte waarborg. Dit is vanjaar 30 jaar sedert die Konstitusionele Hof die eerste keer vergader het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die hof het in sy trotse geskiedenis deurgaans sy werk uitgevoer sonder vrees vir teenspraak en nie geaarsel om selfs die magtigstes in die samelewing aanspreeklik te hou nie. Hy sê die Konstitusionele Hof is ‘n produk van grondwetlike solidariteit.
# Adjunkpresident Paul Mashatile se skoonsuster word verbind met Sizekhaya Holdings, wat die lisensie ontvang het om Suid-Afrika se Nasionale Lotery vir agt jaar te bedryf. Volgens die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek is sy skoonsuster, Khumo Bogatsu, ‘n mede-eienaar en mede-bestuurder van een van Sizekhaya se aandeelhouers, Bellamont Gaming. Die maatskappy ontken dat daar politieke inmenging by sy suksesvolle bod was. Hy voeg by Bogatsu beklee nie enige politieke ampte nie en is ten volle geregtig om enige wettige handelsbelang na te streef.
# Gholf: Die Amerikaner Keegan Bradley reken hy speel tans die beste gholf van sy loopbaan. Die kaptein van die Amerikaanse Ryder-bekerspan het die Travellers-kampioenskap met 15 onder baansyfer gewen. Tommy Fleetwood van Engeland en die Amerikaner Russell Henley was saam tweede op 14 onder, gevolg deur die Australiër Jason Day en Harris English van Amerika op 13 onder. Bradley sê daar word nog besluit of hy ‘n spelende kaptein gaan wees op Bethpage:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-1-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….