Nuus 11:00
BULLETIN 22 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Iran sê Amerika se aanval het geringe skade aangerig
# ’n Onderwysaktivis wil hê misdadige netwerke by hoër onderwysinstellings moet verwyder word
# En RISE Mzansi sê daar is ’n dringende behoefte aan dobbelhervorming in die land
# Amptenare in Iran sê die Amerikaanse aanval het ‘n geringe uitwerking gehad op sy kernfasiliteite, veral die Fordow-terrein wat diep in die berge ingegrawe is. Dis in skerp teenstelling met president Donald Trump se bewerings dat die aanval die aanleg “uitgewis” het. ‘n Iranse wetgewer, Manan Raeisi, beweer die aanval was oppervlakkig en die fasiliteit is nie ernstig beskadig nie. Hy het aan die Iranse staatsmedia gesê die meeste skade is bogronds aangerig en sal ten volle herstel kan word. Komponente wat moontlik ‘n gevaar vir openbare veiligheid ingehou het, is vroeër verskuif, en geen kernstraling is nagespoor nie.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta doen ‘n dringende beroep op wetstoepassingsagentskappe om pogings te verskerp om misdadige netwerke wat in of om hoër onderwysinstellings doenig is, te identifiseer, te ondersoek en te verwyder. Hy sê die geteikende moord op die adjunk-visekanselier van die Walter Sisulu-universiteit, Sinethemba Mpambane, is ‘n bron van kommer. Makaneta sê misdaad het geen plek in die akademie nie:
# RISE Mzansi sê hy het sy stryd teen onwettige dobbelary en vir dobbelhervorming na die land se wetstoepassingsagentskappe geneem. RISE Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê die Valke werk daaraan om die plaag van onwettige dobbelary in Suid-Afrika te bekamp. Hy sê die party sal nie rus totdat daar dobbelhervorming in Suid-Afrika is nie:
# Die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie sê hy het die jeug doelbewus aan die voorpunt van groen sirkel-ekonomie geplaas. Die regeringsinisiatiewe is ontwerp om vaardigheidsgapings te oorbrug en jeugdeelname aan groen oorgang te bespoedig. Die departement se adjunkdirekteur-generaal, Mmboneni Muofhe, sê van slim kleinhandelskonsepte tot volhoubare konstruksie met herwinde materiale, is innovasie nie net ‘n konsep nie, maar verander dit reeds gemeenskappe:
# Tennis: Carlos Alcaraz het die Queen’s Club-eindstryd vir die tweede keer gehaal toe die wêreld nommertwee gister ‘n maklike oorwinning oor Roberto Bautista Agut behaal het. Alcaraz het sy loopbaanbeste wenlopie tot 17 wedstryde uitgebrei in die halfeindstryd wat in versengende hitte by die Wimbledon-opwarmingsgeleentheid in Wes-Londen gespeel is. Alcaraz sal teen Jiri Lehecka in vandag se eindstryd speel. Die 22-jarige is in sy eerste toernooi sedert sy epiese Franse Ope-oorwinning teen Jannik Sinner twee weke gelede en is deur na sy vyfde agtereenvolgende eindronde na sy kleititels in Parys, Rome, Barcelona en Monte Carlo.
# En ten slotte: Twee restaurante in Lima, die hoofstad van Peru, is in die top 10 op die 2025-lys van die Wêreld se 50 beste restaurante. Die toekennings, wat beskou word as die Oscars van innoverende fynproewerskos, is tydens ‘n seremonie in Turyn, Italië, oorhandig, met die restaurant Maido wat met die eerste plek spog. Maido bedien wat bekend staan as Nikkei-kookkuns, waar Japannese tegnieke noukeurig met dinamiese Peruaanse bestanddele gemeng word. Die jaarlikse lys word saamgestel uit stemme deur die lede van die akademie vir die Wêreld se 50 beste restaurante, wat bestaan uit een-duisend-en-80 internasionale restaurantdeskundiges regoor die wêreld.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….