Nuus 11:00
BULLETIN 19 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is nie verbaas dat Brittanje Malema se visum geweier het nie
# Die hoof van die Verenigde Nasies is bekommerd oor die toenemende vyandighede tussen Israel en Iran
# En tennis: Groot name verbind hulle tot die nuwe formaat van die gemengde dubbels op die Amerikaanse Ope
# Die EFF sê hy is nie verbaas oor Brittanje se bevestiging dat die visumaansoek van party leier Julius Malema om politieke redes geweier is nie. Dit volg op ‘n voorval verlede maand, toe Malema verbied is om na Engeland te reis vir ‘n konferensie by die Universiteit van Cambridge. Die Britse Departement van Binnelandse Sake sê die visumweiering is te wyte aan Malema se ekstremisme, wat sy steun vir Hamas insluit. Die EFF sê Brittanje het homself geopenbaar as ‘n onverdraagsame boelie wat poog om sy oortuigings op die wêreld af te dwing.
# Die DA vra die minister van Arbeid en Indiensneming, Nomakhosazana Meth, om die voorgestelde kwotas te skrap wat die indiensneming van geskoolde buitelandse burgers in Suid-Afrika inkort. Bepalings in die witskrif oor die nasionale arbeidsmigrasiebeleid beperk die aanstelling van buitelanders in sekere sakeondernemings en sektore. Michael Bagraim van die DA sê die land benodig regstreekse buitelandse belegging, wat vereis dat hoogsgeskoolde buitelanders na die ekonomie gelok word:
# Rise Mzansi dring aan op die dringende ontplooiing van misdaad-intelligensiedienste en sigbare wetstoepassing in dele van die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal wat deur die onlangse vloede getref is. Dit volg na dreigemente teen noodwerkers, insluitend verslae van afpersing deur die sogenaamde ‘watertenk-mafia’ in Mthatha. Makashule Gana van Rise Mzansi sê die party is bedroef oor die groeiende aantal lewens wat weens uiterste weerstoestande verloor word:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, het kommer uitgespreek oor die toenemende konflik tussen Israel en Iran. Die krisis het Vrydag ontstaan toe Israel kern- en militêre persele reg oor Iran aangeval en Teheran wraakaanvalle op Israelse stede uitgevoer het. Meer as 500 mense is in albei lande dood. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê die sekretaris-generaal het beklemtoon dat ‘n skietstilstand noodsaaklik is om verdere onbestendigheid in die streek te verhoed:
# Tennis: Die Amerikaanse Ope stel vanjaar ‘n nuwe formaat bekend vir die gemengde dubbelspel en ‘n hele aantal groot name het hulle reeds daartoe verbind. Dit sal oor twee dae plaasvind voor die hooftoernooi op 24 Augustus begin. Die organiseerders hoop dit sal meer hoëprofiel-enkelspelers lok. Onder die inskrywings wat reeds ontvang is, is die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, wat saam met die Brit Emma Raducanu gaan speel, die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en Novak Djokovic van Serwië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-79-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….