Nuus 11:00
BULLETIN 18 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa stel minister Angie Motshekga aan as waarnemende president terwyl hy uit die land is
# AfriForum eis gratis tydelike rybewyse te midde van die krisis om rybewyskaarte te druk
# En Israel voer aanvalle uit op Iran se missielvervaardigingsaanlegte
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, as waarnemende president aangestel. Dit is weens die afwesigheid van Ramaphosa, wat aan die G7-beraad in Kanada deelgeneem het, en adjunkpresident Paul Mashatile wat tans op ‘n werksbesoek aan Rusland is. Die Presidensie sê Motshekga se aanstelling is in ooreenstemming met die Grondwet, en sy sal die land se hoogste amp tot môre beklee.
# AfriForum vra die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om tydelike rybewyse gratis aan motoriste te voorsien wat betyds hernu. Dit volg weens die 730-duisend agterstallige rybewyskaarte wat sedert verlede maand nie gedruk kon word nie omdat die drukker gereeld buite werking is. Louis Boshoff van AfriForum sê dis onregverdig om te verwag dat motoriste ekstra moet betaal vir vertragings wat deur die department se mislukkings veroorsaak word en vra onmiddelike oplossings en meer aanspreeklikheid:
# Die DA in Gauteng sê die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het ‘n hersiening van oormatige hospitaal-sekerheidsdienste gelas na die party se onthulling van buitensporige kostestygings. Die totale sekerheidskoste het gestyg van 655-miljoen-rand in 2022 tot 2,54-miljard-rand vanjaar. Jack Bloom van die DA sê die Tara-geestesgesondheidshospitaal se nuwe sekerheidskontrak behels byna dubbel die benodigde wagte:
# Die Israelse Weermag sê hy het oornag ‘n nuwe vlaag aanvalle uitgevoer op Iran se uraanproduksie- en missielvervaardigingsaanlegte. Van die geriewe wat geteiken is, is ‘n monteeraanleg vir die vervaardiging van grond-tot-lugmissiele, ‘n uraanverrykings-aanleg en ‘n opleidingsinstelling wat met die Revolusionêre Wagte verbind word. Die Israelse Weermag sê hy is vas oortuig dat die Iranse regime uraan verryk vir die ontwikkeling van kernwapens.
# Motorsport: Kanada gaan ‘n Formule Een Grand Prix tot minstens 2035 aanbied. Dit volg nadat die sport ‘n verlenging onderteken het met Kanada en Quebec vir ‘n wedren in Montreal, wat sy eerste Grand Prix in 1978 gehou het. Die wedren was in gedrang nadat F1 se uitvoerende hoof, Stefano Dominicali, verlede jaar ‘n streng waarskuwing uitgereik het na klagtes oor organisering en logistiek. Sondag het alles seepglad verloop en die ooreenkoms, wat tot 2031 sou duur, is met nog vier jaar verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-893-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-382-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….