Nuus 11:00
BULLETIN 15 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU kritiseer die voorgestelde begroting van 700-miljoen-rand vir die Nasionale Dialoog
# ‘n Mosambiekse burger word doodgeskiet en nog een gearresteer in die Krugerwildtuin
# En Israel en Iran bestook mekaar in ‘n nuwe vlaag van aanvalle
# COSATU het die voorgestelde begroting van 700-miljoen-rand vir die Nasionale Dialoog as roekeloos en uit voeling verwerp. Matthew Parks van die vakverbond sê die voorstel is ‘n belediging vir sukkelende Suid-Afrikaners wat moet besuinig en die hoë lewenskoste in die gesig staar. Terwyl COSATU die doelwitte van die dialoog ondersteun, het Parks gewaarsku teen ondeurdagte uitlatings en die regering aangespoor om ‘n beskeie en realistiese begroting toe te ken:
# Die ondersoek na die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde is tot 30 Junie verleng. Die ondersoek, wat aanvanklik in Mei sou plaasvind, is onder leiding van TSU International gedoen in opdrag van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau. Dit volg na fluitjieblasers se verslae oor wanbestuur en korrupsie. Die DA se woordvoerder vir Handel, Nywerheid en Mededinging, Toby Chance, het vertragings in die skorsing van amptenare wat betrek word, gekritiseer en waarsku teen inmenging. Daar is steeds kommer oor vertragings met die aanstelling van ‘n permanente uitvoerende hoof en ongevulde vakatures in die direksie.
# ‘n Een-en-30-jarige Mosambiekse burger is gearresteer vir onwettige vuurwapenbesit en betreding in die Kruger Nasionale Park se Satara-gebied. Veldwagters het gister drie verdagtes naby die Ngotso-dam teëgekom. Een het losgebrand en ‘n skietgeveg het uitgebreek waartydens twee verdagtes gewond is. Een het later beswyk. Die derde verdagte het gevlug. Daar is beslag gelê op onder meer ‘n jaggeweer, ammunisie, ‘n byl, mes en selfone. Die oorlewende is onder polisiebewaking in die hospitaal en staar verskeie aanklagte in die gesig. Die polisie soek steeds na ‘n derde verdagte.
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê die 30-miljoen-rand-opknapping van die Botekeeng-rioolpompstasie in Rustenburg, Noordwes, is daarop gemik om rioolstortings te beperk en sanitasie te verbeter. Die opgegradeerde stelsel sal meer as die bestaande 235 huishoudings bedien. Majodina waarsku teen onwettige verbindings en beklemtoon dat dit die stelsel kan laat ineenstort. Sy het gemeenskapsamewerking aangemoedig, aangesien vandalisme gekeer sal word met nuwe sekerheids- en toesigmaatreëls:
# Israel en Iran het laasnag tot vanoggend hernude missielaanvalle op mekaar uitgevoer. Dit volg nadat Israel sy verrassingsaanval teen sy belangrikste vyand uitgebrei het met ‘n aanval op die wêreld se grootste gasveld. Teheran het kern-gesprekke met die VSA afgelas. Volgens Washington was dit die enigste manier om Israel se bombardemente te stop. Waarskuwingsirenes het gisteraand in Jerusalem en Haifa ongeveer ‘n miljoen mense na bomskuilings laat vlug. Israelse media het sê ten minste 35 mense word vermis ná ‘n aanval op die stad Bat Yam, suid van Tel Aviv.
# En sokker: Bafana Bafana speel vandag teen die verdedigende kampioen Angola in die 2025 COSAFA-beker-eindstryd in Bloemfontein. Suid-Afrika het hul plek verseker met ‘n 3-1 oorwinning oor die Comore, terwyl Angola Madagaskar met 4-1 geklop het. Die botsing volg op Suid-Afrika se kriekettriomf by Lord’s. Afrigter Vela Khumalo het ‘n aggressiewe begin vir Bafana beklemtoon. Suid-Afrika, wat tiende in Afrika is, soek hul vierde titel, terwyl Angola mik vir hul vyfde COSAFA-kroon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….