Nuus 11:00
BULLETIN 14 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Donderdag is as ‘n dag van rou in die Oos-Kaap afgekondig
# AfriForum Jeug kritiseer die Noordwes-universiteit se stilswye oor Kill-the-Boer
# En Iran lanseer vlae missiele teen Israel in vergelding op sy lugaanvalle
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het 19 Junie as ‘n provinsiale roudag verklaar ter herinnering aan diegene wat in die week se verwoestende oorstromings omgekom het. Tot dusver is 79 sterftes in die provinsie aangemeld. Die premier het aan die media gesê die regering en begrafnisondernemers werk saam om families te ondersteun. Nadoodse ondersoeke is steeds aan die gang maar talle liggame is reeds opgeëis vir begrafnisse:
# AfriForum Jeug kritiseer die Noordwes-universiteit nadat ‘n vergadering oor die sing van die omstrede ‘Kill the Boer‘-liedjie op die kampus, uitgestel is. Yvonne Gerber van die groep sê die vergadering is nou vir ‘n tweede keer uitgestel terwyl die universiteit versuim om die lied in die openbaar te veroordeel. Gerber beklemtoon dat studente ‘n veilige omgewing verdien. Sy dring aan dat die lied op die kampus verban moet word en vra die universiteit om moreel en daadwerklik op te tree:
# Drie verdagtes is in Port St. Johns, Oos-Kaap, gearresteer in ‘n gesamentlike intelligensiegedrewe operasie. Die polisie het beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens en militêre toerusting. ‘n Polisiewoordvoerder, Nobuntu Gantana, sê taktiese reaksie- en gevegspanne het twee huise in Tombo en Mthumbane deursoek en op gewere, pistole, ammunisie en AK-47’s afgekom. Die verdagtes gaan van verskeie vuurwapenklagte aangekla word en verskyn Dinsdag in die hof. Gantana sê die operasie ontwrig die misdaadnetwerke wat met geweldsmisdade verbind word.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, vra Suid-Afrikaners om teen volgende Vrydag kommentaar te lewer oor die Geïntegreerde Maatskaplike Fasiliteringsraamwerk. Die raamwerk is in die Staatskoerant gepubliseer en gemik op die vermindering van konstruksie-onderbrekings en die neutralisering van die konstruksiemafia deur gemeenskapsbetrokkenheid in infrastruktuurprojekte. Macpherson sê in ‘n verklaring ingeligte deelname sal waninligting teenwerk en projeksekerheid versterk. Die raamwerk spruit uit verlede jaar se Nasionale Konstruksieberaad in Durban.
# Iran en Israel het mekaar vroeg vanoggend met missiele en lugaanvalle bestook nadat Israel sy grootste lugoffensief ooit teen sy langdurige vyand van stapel gestuur het. Israel hou vol dit is ‘n poging om te verhoed dat Iran ‘n kernwapen ontwikkel. Lugaanvalsirenes het oor Israel afgegaan, insluitend Tel Aviv en Jerusalem, waar inwoners na skuilings gevlug het. Opeenvolgende vlae Iranse missiele is deur Israelse onderskeppers ingewag. Reddingspanne het die puin van woonstelgeboue in Rishon Lezion, ‘n stad buite Tel Aviv, deursoek.
# En motorsport: Negentien voormalige Formule Een-renjaers neem deel aan die 93ste Le Mans 24-uur uithouwedren wat vanmiddag in Frankryk begin. Hulle sluit in Kevin Magnussen van Denemarke wat vir BMW jaag, Alpine se Duitse jaer, Mick Schumacher, die Britse bestuurder Jenson Button van die Cadillac Hertz-span Jota, en die Pool Robert Kubica vir AF Corse. Ferrari het die ikoniese wedren die afgelope twee jaar gewen. Elke span het drie bestuurders wat mekaar afwissel, terwyl ‘n bestuurder nie langer as 14-uur in totaal mag jaag nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….