Nuus 11:00
BULLETIN 11 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwerp die persone wat aangestel is om die Nasionale Dialoog te lei,
# Die dodetal weens die oorstromings in die Oos-Kaap styg tot nege
# En die Europese Unie verhoog druk op Rusland met ‘n 18de sanksiepakket
# Die EFF sê hy verwerp met minagting die groep van 32 vooraanstaande persone wat president Cyril Ramaphosa aangestel het om die proses van die Nasionale Dialoog in die land te lei. Die groep sluit in die Springbokkaptein, Siya Kolisi, die aktivis Ela Gandhi, en die sekretaris-generaal van Cosatu, Bheki Ntshalintshali. Die EFF sê die meeste lede van die groep is met die ANC verbind deur lidmaatskap, of het een of ander tyd vir Ramaphosa ondersteun. Die party sê die proses dien eensydige en nie nasionale belange nie.
Die GOOD-party sê egter Ramaphosa se aankondiging van ‘ n nasionale konvensie in Augustus om ‘n Nasionale Dialoog bekend te stel, is lankal nodig om Suid-Afrika se maatskaplike kontrak te hernu. Die konferensie sal die agenda bepaal vir dialoog wat ‘n pad vir die land sal aandui, en ‘n dryfveer vir Visie 2030 bepaal. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê ‘n werklik mensgedrewe dialoog moet buite raadsale strek tot in townships waar die ernstigste probleme tans bestaan:
# Die dodetal na stortreën en gure weer in die Oos-Kaap het tot nege gestyg. Ses liggame is naby die dorp Decoligny gevind en ‘n sewende liggaam by Tsolo. Gisteraand is nog twee liggame in die omgewing van Mthatha gevind. ʼn Woordvoerder van die provinsiale regering, Khuselwa Rantjie, sê owerhede soek nog na vermiste leerders nadat die skoolbus waarin hulle was, meegesleur is:
# Die Europese Unie het sy 18de sanksiepakket teen Rusland bekendgemaak, gemik teen die Kremlin se vermoë om geld te maak uit olie- en gasproduksie. Dit sluit ʼn verbod in op die gebruik van die Nord Stream-pypleiding om gas tussen Rusland en Duitsland te vervoer en die verlaging van die prysplafon op Russiese olie-uitvoere. Die pakket moet nog deur die EU se 27 lidlande goedgekeur word. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê hulle soek vrede in Oekraïne:
# Sokker: Borussia Dortmund het Sunderland se 19-jarige Engelse middelveldspeler, Jobe Bellingham, tot 2030 gekontrakteer – vyf jaar nadat sy ouer broer, Jude, by die klub aangesluit het. Dortmund het volgens berigte ‘n bedrag van ongeveer 667-miljoen-rand betaal om sy dienste te verseker, die grootste voorbetaling wat die klub nog ooit vir ‘n speler betaal het. Bellingham sê hy is bly dat hy die swart en geel hemp van die klub sal kan dra in die Klub-Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-619-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….