Nuus 11:00
BULLETIN 9 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hervorming is nie ‘n guns nie, maar ‘n noodsaaklikheid
# Minister Mchunu onttrek die advertensie vir ‘n nuwe hoof vir die Valke
# En krieket: Aiden Markram is gereed vir die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië
# President Cyril Ramaphosa sê die regering herbevestig swart bemagtiging is nie slegs ‘n beleidskeuse nie, maar ‘n grondwetlike plig. Vanjaar is die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die vals idee dat ‘n keuse gemaak moet word tussen groei en transformasie, en dat swart bemagtiging die ekonomie geld kos, moet reggestel word. Ramaphosa sê transformasie is nie ‘n guns nie, maar noodsaaklik. Hy voeg by die taak is om te verseker dat groei en transformasie saam nagevolg word.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het ‘n advertensie vir die pos vir ‘n nuwe hoof vir die Valke onttrek. Die voormalige hoof, Godfrey Lebeya, het verlede maand afgetree ná sewe jaar in die pos. Mchunu het aan News24 gesê hy het besluit om die advertensie te onttrek nadat hy die korttermyn-onbestendigheid van ʼn waarnemende hoof opgeweeg het teen die belangrikheid om die regte persoon aan te stel. Hy sê hy wil hê meer mense moet aansoek doen en soek meer diepte om uit te kies vir die belangrike pos.
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom voortgesette pogings om landbou-uitvoermarkte te beskerm. Die party sê die Verenigde State bly ‘n kritieke handelsvennoot, veral deur die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika, wat belastingvrye toegang vir ‘n wye reeks Suid-Afrikaanse landbouprodukte bied. Noko Masipa van die DA sê in 2024 alleen het die provinsie landbouprodukte ter waarde van 3,5-miljard-rand na Amerika uitgevoer, insluitend meer as 1,8-miljard-rand se sitrusvrugte:
Die polisie in Los Angeles het intussen die middestad tot ‘n onwettige bymekaarkomplek verklaar na die derde dag van betogings teen die Amerikaanse president, Donald Trump, se optrede teen immigrante. Tien mense is aangekeer toe die polisie met betogers slaags geraak het. Sowat 300 lede van die nasionale wag is op bevel van Trump ontplooi vir die beskerming van federale personeel en eiendom. Kalifornië se goewerneur, Gaven Newsom, het aan MSNBC gesê hulle oorweeg om Trump se administrasie te dagvaar oor die ontplooiing van die nasionale wag:
# Krieket: Die Proteas se aanvangskolwer, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue in aanloop tot die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen die huidige kampioen, Australië, wat Woensdag op Lord’s begin, al het Suid-Afrika ses maande laas ʼn toets gespeel. Markram sê hulle weet hoe belangrik dit is om goed te begin en vroeg in die wedstryd ʼn voorsprong te kry. Hy voeg by elke skof gaan belangrik wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-718-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-324-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….