Nuus 11:00
BULLETIN 3 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê OPOD vertraag sy toegang tot die Phala Phala-verslag
# Die polisie is op die rand van ‘n deurbraak in die moord op die IVP-adjunkhoofsweep
# En die VN-hoof vra ‘n ondersoek na die moorde by ‘n voedselverspreidingsentrum in Gaza
# ActionSA sê die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat het 30 dae uitstel gevra vir die party se aansoek volgens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Die PAIA-aansoek vra die bekendmaking van die OPOD-verslag oor die presidensiële beskermingseenheid se betrokkenheid by die Phala Phala-diefstalsaak in 2020. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die verslag as “hoogs geheim” geklassifiseer. ActionSA-woordvoerder Michael Beaumont sê OPOD voer aan sy e-posstelsel was vanlyn en daarom het hy die aanvanklike sperdatum in Mei misgeloop:
# Die Nasionale Polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê hy is vol vertroue dat die span speurders wat die moord op die IVP se adjunkhoofsweep, Khethamabala Sithole, ondersoek, binnekort ‘n deurbraak sal maak. Hy is Saterdagaand in Katlehong op die Gautengse Oos-Rand doodgeskiet in wat sy party ‘n sluipmoord noem. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die ondersoekspan maak vordering met die opsporing van die beweerde moordenaar:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof gaan vandag die EFF se dringende aansoek aanhoor om die minister van Finansies, Enoch Godongwana te keer om die brandstofheffing in te stel. Die minister het verlede maand in sy begrotingstoespraak ‘n 15-sent per liter verhoging vir diesel en 16-sent-per liter vir petrol aangekondig. Die EFF voer aan die verhogingsproses was foutief en ook irrasioneel. Godongwana waarsku daar sal ‘n begrotingstekort van 3,5-miljard-rand wees as die heffings nie verhoog word nie.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, vra ‘n onafhanklike ondersoek na die dood van Palestyne naby ʼn hulpverspreidingsentrum in Gaza. Minstens 31 mense is Sondag dood toe die Israelse weermag na bewering op burgerlikes geskiet het naby die Amerikaans- en Israel-gesteunde Gaza Humanitêre Stigting se voedselsentrum. Israel ontken ten sterkste dat hy betrokke was. Guterres sê dis onaanvaarbaar dat Palestyne hul lewe waag om kos te kry. Hy sê ʼn onmiddellike, permanente en volhoubare skietstilstand is dringend nodig.
# Sokker: Banyana Banyana wil die eerste Drienasies-reeks behoorlik afsluit wanneer hulle Zambië vanmiddag op die Lucas Moripe-stadion in Pretoria takel. Suid-Afrika het Botswana verlede Woensdag met 3−2 verslaan terwyl dié land en Zambië se wedstryd die naweek gelykop geëindig het met een elk. Die reeks is ter voorbereiding van die Vroue-Afrikanasies-beker wat in Julie in Marokko plaasvind. Afrigter Desiree Ellis sê Zambië gaan ʼn taai teenstander wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-748-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-353-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….