Nuus 11:00
BULLETIN 30 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK se jongste verslag oor politieke skenkings toon die ANC het sewe-miljoen-rand ontvang
# Die hoofverdagte in die Olorato Mongale-moord is in KwaZulu-Natal doodgeskiet
# En die VN sê hoe langer die oorlog in Oekraïne voortduur, hoe moeiliker sal vrede wees
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het politieke skenkings vir die 2024/2025-boekjaar se vierde kwartaal bekendgemaak. Die totale waarde van verklaarde skenkings beloop 14,18-miljoen-rand. Van 1 Januarie tot 31 Maart 2025 het die ANC 7-miljoen-rand ontvang: vier-miljoen-rand van Chancellor House Trust en drie-miljoen van Naspers Limited. Die DA het 6,2-miljoen-rand ontvang en ActionSA een-miljoen-rand. Die OVK sê hy verwag die skenkings sal toeneem in aanloop tot volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesings.
# Die GOOD-party sê die stigting van ‘n kommissie van ondersoek na misdade in die apartheidstyd, laat die administrasie van Thabo Mbeki en die Nasionale Vervolgingsverslag feitlik teregstaan op ’n klag van regsverydeling. Die kommissie wil vasstel of daar pogings was om die polisie of NVG te beïnvloed om nie sake van die Waarheid- en Versoeningskommissie te ondersoek en te vervolg nie. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die kommissie sal ook bepaal of die betrokke gesinne betaal moet word:
# Die hoofverdagte in die moord op die 30-jarige Olorato Mongale is vanoggend in KwaZulu-Natal deur die polisie doodgeskiet. Haar liggaam is Sondag in Lombardy-Wes in Johannesburg gevind. KZN se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê hulle het inligting ontvang dat een van die verdagtes by ‘n woonkompleks in Amanzimtoti skuil. Hy sê toe die beamptes daar aankom, het die verdagte op hulle geskiet. Hulle het teruggeskiet en hy is noodlottig gewond:
# Die Verenigde Nasies waarsku die stygende aantal burgerlike ongevalle en toenemende humanitêre krisis kan ʼn diplomatieke einde aan die oorlog in Oekraïne ontspoor. Rusland het verlede naweek sy grootste vlaag aanvalle met ʼn rekordgetal langafstandmissiele en hommeltuie op Kiev uitgevoer en tientalle burgerlikes is dood. Rosemary DiCarlo van die VN sê internasionale humanitêre reg verbied aanvalle teen burgerlikes en burgerlike infrastruktuur en voeg by dis onaanvaarbaar en onverdedigbaar:
# Sokker: Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, het verskeie gereelde spelers uit sy groep gelaat vir internasionale vriendskaplike wedstryde teen Mosambiek en Tanzanië vroeg volgende maand. Hy sê dit bied geleenthede vir nuwe spelers. Die groep van 23 sluit nege spelers van Orlando Pirates in, terwyl geen speler van Mamelodi Sundowns oorweeg is nie. Die Pretoriase klub sal Suid-Afrika verteenwoordig op die Klub-Wêreldbekertoernooi in Amerika vanaf die 15de van volgende maand. Bafana speel volgende Vrydag in Polokwane teen Tanzanië, en vier dae later in Pretoria teen Mosambiek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-844-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-296-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….