Nuus 11:00
BULLETIN 27 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM-leier vra vir ‘n gesamentlike komitee tussen Suid-Afrika en Amerika om volksmoordbewerings te ondersoek
# Die Verenigde Nasies sê die kosvoorraad wat Gaza bereik is nie genoeg om hongersnood af te weer nie
# En motorsport: Thailand onderhandel om teen 2028 ‘n Formule Een-wedren aan te bied
# Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, vra ‘n gesamentlike ondersoekkomitee tussen Suid-Afrika en Amerika om die oorsprong, doel en geloofwaardigheid van ʼn wit volksmoord in Suid-Afrika te ondersoek. President Donald Trump het beweer daar is ʼn volksmoord teen die land se wit boere, maar die regering ontken dit. Holomisa het aan Newzroom Afrika gesê daar bestaan die gevaar dat die bewerings vir politieke of ekonomiese agendas gemanipuleer kan word:
# Drie mense is vanoggend dood en 12 beseer in ʼn busongeluk op die R102 naby die Maidstone-suikermeule by Tongaat in KwaZulu-Natal. Volgens owerhede het die volgelaaide bus van die Tongaatrivier-brug afgestort en twee mans en ʼn vrou is dood. Die provinsiale Departement Vervoer se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê die betrokke owerhede sal die noodlottige ongeluk ondersoek:
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het volgens berigte jare lank verslae verberg wat wys dat City Power die stad se vermoë kniehalter om dienste te verskaf. News24 berig dat City Power op 30 September verlede jaar ʼn negatiewe bankbalans van 16,3-miljard-rand gehad het. Volgens die Ouditeur-generaal het die kragvoorsiener in die 12 maande tot 30 Junie 2024 ʼn verlies van 2,8-miljard-rand gehad. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê dié bewerings is vals en misleidend en hulle is deursigtig en aanspreeklik.
# Die Verenigde Nasies se Agentskap vir Palestynse Vlugtelinge waarsku die voorrade wat drupsgewys in die oorloggeteisterde Gaza toegelaat word, sal nie die hongersnood stop nie. Daar word beraam dat ‘n half-miljoen mense deur hongersnood bedreig word. Dit volg nadat Israel sy aanvalle teen Hamas in die noorde van Gaza verskerp het en minstens 50 mense die afgelope paar dae in lugaanvalle dood is. Woordvoerder Juliette Touma sê net meer as 300 vragmotors het Gaza sedert verlede Maandag binnegegaan:
# Motorsport: Thailand beplan om ‘n bod in te dien om teen 2028 ‘n Formule Een-wedren aan te bied. Eerste minister Paetongtarn Shinawatra het die naweek tydens die Grand Prix in Monaco hieroor met besluitnemers vergader. ‘n Bod- en uitvoerbaarheidsvoorstel sal volgende week aan die Thaise kabinet voorgelê word vir goedkeuring. Daar word al langer as ‘n jaar planne beraam vir ‘n Grand Prix in Thailand, heel waarskynlik ‘n straatren in die hoofstad, Bangkok.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-137-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….