Nuus 11:00
BULLETIN 18 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen sê hy sal op handelsbetrekkinge fokus tydens die vergadering met Trump
# Die NVG gaan voort met sy appèl teen Omotoso se onskuldigbevinding ondanks sy vertrek uit Suid-Afrika
# En die Israelse eerste minister sê hy sal die oorlog beëindig indien Hamas oorgee
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die belangrikste sake op sy lys sal die vestiging van handelsbande tussen Suid-Afrika en Amerika wees, veral op landbougebied. Steenhuisen, in sy hoedanigheid as minister van Landbou, is deel van president Cyril Ramaphosa se afvaardiging om in Amerika met president Donald Trump en senior amptenare te vergader. Hy sê voorkeur-handelsooreenkomste soos die Wet op Afrika-groei en Geleenthede dra aansienlik by tot die land se ekonomie en dit sal rampspoedig wees om dit te verloor.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag aan voort met sy appèlaansoek teen die onskuldigbevinding van die Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, al het hy Suid-Afrika verlaat. Die omstrede pastoor, wat vrygespreek is op 32 ernstige aanklagte, is tot ‘n ongewenste persoon verklaar en verbied om die land binne die volgende vyf jaar binne te kom. Die NVG sê indien die appèl slaag, sal hy aansoek doen dat Omotoso uitgelewer word. Hy sê hulle sal alle bestaande bilaterale, streeks- en internasionale samewerkings-ooreenkomste en meganismes gebruik om seker te maak hy word uitgelewer.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het aangekondig die Werkloosheidsversekeringfonds en die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ʼn nuwe ooreenkoms onderteken. Die doel is om byna ses-duisend werksgeleenthede te behou en die staatsinstelling te laat herleef. Die ministerie se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê die WVF sal oor ʼn tydperk van ses maande deur die Tydelike Werkgewer-werknemer-verligtingsfonds 381-miljoen-rand in die Poskantoor stort:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy is bereid om ʼn ooreenkoms met Hamas aan te gaan, ondanks die Israelse Weermag se uitgebreide operasie in Gaza die naweek waarin meer as 100 mense dood is. Hamas en Israel het Saterdag in die Katarse hoofstad, Doha, met onregstreekse samesprekings begin. Netanyahu sê die onderhandelingspan oorweeg enige ooreenkoms wat die vrylating van alle gyselaars, die verbanning van Hamas-terroriste en ontwapening van die Gaza-strook insluit.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, sê hy het drank gelos om vinniger te herstel van sy jongste agterkniesening-operasie. Hy sal na verwagting terugkeer in die eenmalige toets teen Zimbabwe wat Donderdag op Trent Bridge begin nadat hy van Desember op die krukkelys was nadat hy sy linker-agterkniesening geskeur het in Nieu-Seeland. Stokes het aan die Untapped-potgooi gesê dis onwaarskynlik dat hy heeltemal sal ophou drink, maar hy het geleer om sy gebruik te bestuur:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-464-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-227-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….