Nuus 11:00
BULLETIN 16 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie verwag die vergadering tussen Ramaphosa en Trump sal fatsoenlikheid handhaaf
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof verklaar dele van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik
# En gholf: Jhonattan Vegas van Venezuela loop voor na die eerste ronde van die PGA-kampioenskap
# Die Presidensie verwag volgende week se ontmoeting tussen president Cyril Ramaphosa en sy Amerikaanse ampsgenoot, Donald Trump, sal fatsoenlik verloop. Die ontmoeting sal ‘n platform wees om die strategiese verhouding tussen die twee lande te herstel. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan die SABC gesê die president is bewus van wat kan gebeur ná die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, se besoek aan die Withuis, maar is nie bang nie:
Cosatu het die ontmoeting verwelkom. Trump het sedert die begin van sy tweede termyn in Januarie Suid-Afrika beskuldig van volksmoord teen wit Afrikanerboere en dat hulle grond afgevat word. Amerika is Suid-Afrika se tweede grootste handelsvennoot na China. Matthew Parks van Cosatu sê die besoek bied ‘n geleentheid om politieke en handelsprobleme en ander kwessies in die verhouding tussen die lande aan te pak:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het dele van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik verklaar en uitstel aan sommige asielsoekers gebied. Die uitspraak volg op regsgeding van twee jaar deur die Scalabrini-sentrum, wat aangevoer het dat die deportasie van mense sonder om asielaansoeke te oorweeg, grondwetlike regte skend. Die hof het bevind die verbod op aansoeke gegrond op onwettige toegang, is teenstrydig met die beginsel van non-refoulement. Die uitspraak gaan nou na die Konstitusionele Hof vir bevestiging voordat dit in werking kan tree. Deportasies bly opgeskort hangende die uitslag.
# Die legendariese Motown-sanger en liedjieskrywer, Smokey Robinson, word strafregtelik ondersoek nadat hy van seksuele aanranding beskuldig is. Vier voormalige vroulike werknemers het die 85-jarige sanger verlede week gedagvaar en beskuldig hom van seksuele teistering, vals inhegtenisneming en nalatigheid. Hulle het tussen 2006 en verlede jaar vir hom gewerk. Die Los Angeles-distrik se polisiedepartement sê die ondersoek is in ʼn vroeë stadium. Robinson se prokureur, Christopher Frost, sê sy kliënt het niks verkeerd gedoen nie en dis ʼn desperate poging om die openbare mening teen hom te beïnvloed.
# Gholf: Jhonattan Vegas van Venezuela het sewe onder-64 aangeteken in die eerste ronde van die Amerikaanse PGA-kampioenskap in Noord-Carolina – twee houe voor die Amerikaner Ryan Gerard en die Australiër Cam Davis. Die Meesterskampioen, Rory McIlroy van Noord-Ierland, het foute begaan en is tien houe agter die voorloper. Die Suid-Afrikaner Garrick Higgo, die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler van Amerika, en sewe ander is saam 20ste op twee onder baansyfer. Vegas sê dit was ʼn ongelooflike begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-905-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-213-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….