Nuus 11:00
BULLETIN 15 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement wil ‘n regsmening inwin oor moontlike aanklagte teen AfriForum en Solidariteit
# Iran is skynbaar bereid om toegewings teenoor Amerika te maak oor sy kernwapenprogram
# En die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks sterf op 37
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking vra die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om ‘n regsmening te bekom oor moontlike aanklagte teen AfriForum en Solidariteit. Die komitee se voorsitter, Supra Mahumapelo, sê die organisasies is aan die voorpunt met die verspreiding van waninligting oor Suid-Afrika in Amerika. Dit volg nadat 49 Afrikaners na Amerika vertrek het waar hulle as vlugtelinge ontvang is. Mahumapelo sê daar is geen volksmoord in Suid-Afrika soos die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer nie:
# Die Vryemarkstigting sê beleidmakers wil nie ‘n realistiese, feitgebaseerde benadering tot die skepping van rykdom, ekonomiese groei en selfs bestuur aanvaar nie. Die stigting sê al gee president Cyril Ramaphosa voor hy wil 1,2-duisend-miljard-rand se regstreekse beleggings lok, dra sy regering se beleid niks by tot dié doel nie. Hy sê buitelandse beleggers word afgeskrik deur swart ekonomiese bemagtiging se regulasies wat die ekonomie benadeel. Die stigting sê landsburgers loop steeds deur onder ʼn rasbehepte regime wat outoritêr wil wees.
# Die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap het kommer uitgespreek oor die daaglikse verspreiding van fopnuus wat op sy dienste gemik is. SASSA se woordvoerder, Andile Tshona, benadruk daar is geen dubbele toelaebetalings vir Junie geskeduleer nie en ontken ook die bewerings oor nuwe pensioenreëls vanaf 10 Junie. Hy vra begunstigdes om slegs op amptelike kanale staat te maak en waarsku waninligting veroorsaak paniek asook vals hoop onder kwesbare Suid-Afrikaners:
# Iran is skynbaar bereid om toegewings teenoor Amerika te maak oor sy kernwapenprogram in ruil vir die onmiddellike opheffing van ekonomiese sanksies. Dit volg nadat president Donald Trump Katar gevra het om Iran te oorreed om sy kernprogram te laat vaar. ‘n Raadgewer oor kernwapens vir Iran se opperleier, Ali Shamkhani, sê hulle is bereid om ontslae te raak van hul verrykte uraan wat vir wapens gebruik kan word, en slegs uraan toe te laat wat verryk is vir burgerlike gebruik:
# Rugby: Die voormalige Springbok-vleuel Cornal Hendricks is op 37-jarige ouderdom oorlede. Hy het blykbaar gisteraand ‘n hartaanval gehad. Hendricks het tussen 2014 en 2015 12 toetse vir die Bokke gespeel en vyf drieë gedruk. Plaaslik het hy Boland, die Cheetahs en die Bulle verteenwoordig. Sy toetsloopbaan is kortgeknip nadat hy in 2016 met ‘n ernstige harttoestand gediagnoseer is. Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het hulde gebring aan Hendricks en gesê hy het baie mense in sport geïnspireer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-344-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-144-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….