Nuus 11:00
BULLETIN 13 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê daar sal geen politieke inmenging by die nuwe intelligensie-agentskappe wees nie
# Die Wes-Kaapse regering is bemoedig deur die provinsie se bestendige werkloosheidsyfer
# En die Amerikaanse president, Donald Trump, beplan om sanksies teen Sirië op te hef
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê daar sal geen politieke inmenging by die twee nuwe intelligensie-agentskappe wees nie. Die Staatsveiligheidsagentskap word in twee verdeel: die Buitelandse Intelligensiediens om bedreigings teen nasionale veiligheid te identifiseer, en die Binnelandse Intelligensie-agentskap, wat verantwoordelik is vir teenintelligensie. Dis ‘n poging om die intelligensiedienste te hervorm en oorsig en aanspreeklikheid te verbeter. Ntshavheni sê die twee nuwe strukture sal binnekort in werking wees:
# Die EFF vra dat amptenare van Binnelandse Sake wat by korrupsie betrek word van hoogverraad aangekla word. Die departement se adjunk-direkteur-generaal vir Teenkorrupsie en Sekerheid, Conny Moitse, het onthul minstens 805 sake is die afgelope drie boekjare ondersoek. Die algemeenste oortredings hou verband met bedrieglike identiteitsdokumente en geboorteregistrasies. Sewentien amptenare word betrek by die onregmatige verwerking en uitreiking van studievisums. Die EFF kritiseer die sagte benadering teenoor korrupte amptenare en sê hulle kan nie net van bedrog en korrupsie aangekla word nie.
# Die Wes-Kaap se regering sê hy is bemoedig deur die jongste kwartaalsyfers van die arbeidsmagopname, wat toon die provinsie het steeds die laagste werkloosheidsyfer in Suid-Afrika van 19,6-persent in die eerste kwartaal van vanjaar. Die provinsie se amptelike werkloosheidsyfer is die derde agtereenvolgende kwartaal onder 20-persent. Die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê dis duidelik dat die plaaslike regering se benadering tot die groei van die provinsie se ekonomie werk:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy gaan die sanksies ophef wat meer as ʼn dekade gelede teen Sirië ingestel is. Die doel was om ekonomiese druk uit te oefen op die diktatorskap van oudpresident Basjar al-Assad, wat in Desember verlede jaar uit die kussings gelig is. Trump is op ʼn vierdaagse besoek aan die streek en het op die beleggingskonferensie tussen Amerika en Saoedi-Arabië gesê die opheffing van sanksies sal Sirië kans gee om suksesvol te wees:
# Gholf: Die Meesters-kampioen, Rory McIlroy, speel saam met die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, en die verdedigende kampioen, Xander Schauffele, in die eerste twee rondes van die Amerikaanse PGA-kampioenskap. McIlroy wil die eerste speler word om die eerste twee majors van die jaar te wen sedert Jordan Spieth in 2015 die Meesters en die Amerikaanse Ope gewen het. Spieth is in dieselfde groep as Patrick Reed en die Ryderbeker-ster, Ludvig Åberg. Suid-Afrika se voorste speler, Thriston Lawrence, is ingedeel saam met die Amerikaner Nick Dunlap en Harry Hall van Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-698-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-230-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-08 sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….