Nuus 11:00
BULLETIN 13 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag gaan teen Timothy Omotoso se onskuldigbevinding appelleer
# Nog drie verdagtes word aangekeer in verband met die moord op ‘n joernalis en sy lewensmaat
# En 400 vegters van die Islamitiese Staat in Brittanje kan moontlik vervolg word
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se direkteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap, Barry Madolo, het besluit om te appelleer teen die onskuldigbevinding van die omstrede Nigeriese tele-evangelis, Timothy Omotoso, en sy medebeskuldigdes. Omotoso, Lusanda Solani en Zukiswa Sitho is verlede maand vrygespreek op 32 aanklagte wat verkragting, afpersing en mensehandel insluit. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, het aan die SABC gesê daar is ‘n redelike moontlikheid dat die appèl sal slaag ondanks ‘n ingewikkelde regsproses:
# Die polisie het bevestig nog drie mense is aangekeer in verband met die verdwyning van en moontlike moord op die joernalis Aserie Ndlovu en sy lewensmaat, Zodwa Mdhluli. Agt verdagtes word nou aangehou. Oorskot wat moontlik dié van die paartjie is, is verlede week in Rust de Winter op die grens tussen Limpopo en Gauteng ontdek. Daar word nog gewag op die uitslag van DNS-toetse om die identiteite vas te stel. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die jongste verdagtes is vanoggend vasgetrek:
# Die Departement van Gesondheid sê voedselveiligheidstandaarde sal nou strenger toegepas word na Tiger Brands se besluit om die listeriose-groepsgeding te skik. Die uitbraak in 2017 is veroorsaak deur besmette produkte uit die maatskappy se aanleg in Polokwane, Limpopo. Dit het meer as 200 lewens geëis en meer as ‘n duisend mense geraak. Foster Mohale van die departement het families van slagoffers aangemoedig om met bewyse vorendag te kom vir moontlike vergoeding:
# Die Britse Parlement se gesamentlike komitee oor Menseregte sê meer as 400 mense wat vir ISIS in Sirië en Irak geveg het, het na die Verenigde Koninkryk teruggekeer sonder om vervolg te word. ISIS was verantwoordelik vir veldtogte van terreur, moord en verkragting wat veral teen minderheids-godsdiensgroepe gemik was. Die komitee sê die howe word verhinder om geregtigheid te laat geskied oor oorlogsmisdade en volksmoord, aangesien dit nie moontlik is om mense vir die misdade te vervolg tensy hulle Britse burgers of inwoners is of onderworpe is aan dienspersoneelwette nie.
# Krieket: Die Indiese Premierliga hervat Saterdag en Krieket Australië sê hy sal spelers se individuele besluite steun of hulle na Indië wil terugkeer of nie. Die wêreld se grootste konsessie-liga is Vrydag vir ʼn week lank gestaak te midde van spanning tussen Indië en Pakistan. ʼn Skietstilstand is ʼn dag later bereik. Baie Australiërs wat by die toernooi betrokke is, het teruggekeer huis toe. Krieket Australië sê die hersiene IPL-program bemoeilik voorbereiding vir die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen Suid-Afrika wat volgende maand in Londen gespeel word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-720-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-260-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….