Nuus 11:00
BULLETIN 12 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika moet ‘n leidende rol speel in Afrika se ekonomiese integrasie
# ActionSA vra minister Mantashe om die herwinning van die Lilymyn-slagoffers te bespoedig
# En die hoof van die Verenigde Nasies hoop die skietstilstand tussen Indië en Pakistan sal tot blywende vrede lei
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se deelname aan die Afrika-forum vir Uitvoerende Hoofde in die Ivoorkus beklemtoon die land se verbintenis tot ‘n leidende rol in die vasteland se ekonomiese integrasie. Ramaphosa is vandag en môre by die forum waar uitvoerende hoofde, staatshoofde en beleggers vergader. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die verwikkelinge in die wêreld-ekonomie bied ‘n geleentheid vir ‘n strategiese, Afrika-gefokusde handels- en beleggingsbeleid. Hy sê ook Suid-Afrikaanse sake-ondernemings moet leiding neem om nywerhede in Afrika te hervorm.
# ActionSA sê hy het die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, skriftelik versoek vir die herwinning van die oorskot van die drie werkers van die Lily-myn in Mpumalanga. Dit is presies nege jaar sedert Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda ondergronds vasgekeer is in ‘n vraghouer in die myn in Barberton toe die terrein ingestort het. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê Mantashe moet inligting verskaf oor sy departement se plan om hul oorskot te herwin:
# Vyf verdagtes wat verbind word met die moord op twee polisiebeamptes en ‘n paartjie is dood in ‘n skietgeveg met die polisie in Mophela by Hammarsdale, wes van Durban. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê hulle het inligting ontvang dat die verdagtes op die Mophela-pad onderweg was. Hy sê hulle het die polisie se opdrag veronagsaam om stil te hou en op geregsdienaars losgebrand:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê hy hoop die skietstilstands-ooreenkoms tussen Indië en Pakistan sal tot blywende vrede bydra. Die skietstilstand is die naweek bereik ná toenemende botsings waarin albei kante missielaanvalle op mekaar se belangrike militêre basisse uitgevoer het. Guterres sê die ooreenkoms sal hopelik ‘n omgewing skep waar bestaande en groter kwessies tussen die twee lande aandag kan kry. Hy sê die VN is gereed om pogings te ondersteun wat vrede en bestendigheid in die streek sal bevorder.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz is steeds op dreef om sy eerste Italiaanse Ope-titel te wen ná ‘n oorwinning oor Laslo Djere van Serwië vir ‘n plek onder die laaste-16. Die Spanjaard speel volgende teen die Rus Karen Khachanov, wat die Italiaanse gunsteling Francesco Passaro geklop het. Die verdedigende kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, het die Litause kwalifiseerder Vilius Gaubas uitgeskakel. In die vroue-afdeling is die wêreld- nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Amerikaner Coco Gauff en die Rus Mirra Andreeva ook deur na die vierde ronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-416-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-248-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….