Nuus 11:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 10 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê die kragstelsel bly stabiel met volgehoue vermindering in beplande onderbrekings
# Nat toestande sal na verwagting vir die res van dag voortduur in die Wes-Kaap
# En, Pakistan sê Indië het missiele op sleutel- militêre basisse gevuur
# Eskom sê die kragstelsel bly stabiel en word gerugsteun deur voldoende noodreserwes wat strategies ontplooi word wanneer dit nodig is om tye van hoë aanvraag tydens piektye in die winter te bestuur. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die faktor van onbeplande verlies aan opwekkingsvermoë, wat onbeplande onderbrekings meet, was van April tot Donderdag 27,99-persent. Sy sê dit weerspieël ‘n verbetering van 1,2-persent teenoor die 29,15-persent dieselfde tyd verlede jaar:
# Die Stad Kaapstad sê die nat toestande sal na verwagting vir die res van die dag in die Wes-Kaap voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n vlak 4-weerwaarskuwing vir skadelike winde en golwe hierdie naweek vir die provinsie uitgereik weens ‘n koue front. Die stad se verkeerswoordvoerder, Kevin Jacobs, sê daar is nog geen padsluitings weens die weer nie:
Die Stad Kaapstad se Departement vir Gemeenskaps-, Kuns- en Kultuurontwikkeling sê intussen hy sal dié winter goedere en dienste ter waarde van 1,2-miljoen-rand aan tien skuilings verskaf om aan die verhoogde vraag na hul dienste te voorsien. Die begroting van een-miljoen rand sal aangewend word vir die verkryging en verspreiding van noodsaaklike items soos komberse, matrasse, voedselprodukte, toiletware en skoonmaakmiddels aan kwalifiserende skuilings. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê 230-duisend-rand sal skuilings met tydelike personeel help:
# Pakistan sê Indië het missiele op belangrike militêre basisse gelanseer, insluitend ‘n basis naby die hoofstad Islamabad. Pakistan se weermag sê hulle het ‘n operasie teen Indië uitgevoer in vergelding vir die jongste aanvalle. Die toename in spanning tussen die buurlande volg na die aanval op toeriste verlede maand in die Indies-beheerde Kasjmir. Indië het in reaksie gesê hy teiken terroriste-infrastruktuur in sowel Pakistan as Kasjmir. Beide kante beskuldig mekaar van verskerpte optrede, insluitend die afvuur van hommeltuie en missiele ten spyte van oproepe deur die internasionale gemeenskap om hulle te beteuel.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, keer vandag terug na sy opkikker-skorsing van drie-maande wanneer hy teen die Argentyn Mariano Navone speel in sy tuistoernooi, die Italiaanse Ope. Carlos Alcaraz het gister sy veldtog vir ‘n eerste titel in Rome afgeskop met ‘n maklike oorwinning oor die Serwiese kwalifiseerder Dusan Lajovic. Die Spanjaard is terug nadat hy verlede maand beseer is toe hy in die eindstryd van die Barcelona Ope teen Holger Rune verloor het. Alcaraz het ‘n bietjie verroes gelyk, met 22 ongedwonge foute.
En in die vroue-afdeling het Coco Gauff het ‘n moontlike nederlaag op vanjaar se Italiaanse Ope afgeweer deur terug te baklei van ‘n agterstand van een stel om sodoende die kwalifiseerder Victoria Mboko met 3-6, 6-2, 6-1 te klop. Die wêreld se nommer drie sal in die derde ronde in Rome teen Magda Linette speel. Vroeër het die wêreld se voorste speler, Aryna Sabalenka, Rusland se Anastasia Potapova in net meer as ‘n uur met 6-2, 6-2 geklop. Sabalenka speel volgende teen Sofia Kenin nadat die Amerikaner Anastasia Pavlyuchenkova in skoon stelle geklop het met 6-3, 6-0. Die 27-jarige Sabalenka het in al vier haar laaste toernooie die eindstryd gehaal en in Madrid en Miami gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….