Nuus 11:00
BULLETIN 8 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê politieke onbestendigheid beïnvloed ekonomiese groei
# Die president van die Europese Kommissie sê hulle gaan nie terugkeer na Russiese brandstof na die oorlog nie
# En die VF Plus sê die Afrikaanse taal moet beskerm word
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomie sal waarskynlik teen ‘n aansienlik stadiger tempo groei as wat voorheen verwag is. Dit is die gevolg van binnelandse politieke onbestendigheid en die Amerikaanse president, Donald Trump, se tariefoorlog. Die buro het sy ekonomiese groeivooruitsigte vir die land tot slegs 1,5-persent verlaag, van twee-persent wat voorheen verwag is. Die buro se hoof-ekonoom, Lisette IJssel de Schepper, sê terwyl spanning in die regering van nasionale eenheid voortduur, is hulle bekommerd of dit doeltreffend kan funksioneer.
# Die MK-party verwerp onomwonde die Konstitusionele Hof se uitspraak wat dubbele burgerskap verseker. Dié beslissing bevestig die Appèlhof se uitspraak wat ‘n bepaling van die Wet op Burgerskap onwettig verklaar. Die Konstitusionele Hof het wetgewing as ongrondwetlik verklaar wat Suid-Afrikaners van hulle burgerskap ontneem as hulle die burgerskap van ‘n ander land aanvaar. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela sê die besluit toon hoe Suid-Afrika se regsraamwerk al meer gebruik word om die soewereiniteit van die meerderheid te ondermyn:
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, sê dit is nie ‘n moontlikheid om na die oorlog in Oekraïne weer Russiese fossielbrandstof aan te koop nie. Dit kom te midde van die Amerikaanse president, Donald Trump, se pogings om ‘n vredesooreenkoms te bewerkstellig. Die Europese Unie was dekades lank Rusland se grootste kliënt, maar die verhouding het vroeg in 2022 skipbreuk gely na Moskou se inval in Oekraïne. Von der Leyen sê om weer sake met Rusland te doen, sou ‘n fout van geskiedkundige afmetings wees:
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse kolwer Lhuan-dré Pretorius het by Rajasthan Royals aangesluit as plaasvervanger vir die beseerde Nitish Rana vir die oorblywende wedstryde van die Indiese Premierliga. Die 19-jarige wat nog sy internasionale buiging moet maak, het die meeste lopies aangeteken in vanjaar se SA20, naamlik 397 in 12 wedstryde. Rajasthan is nie meer in die wedloop vir uitspeelwedstryde nie, maar het nog twee wedstryde oor – teen Chennai Super Kings in Chennai en Punjab Kings in Jaipur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-165-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-20-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Vryheidsfront Plus sê Afrikaans is ‘n kulturele en intellektuele taal wat beskerm moet word. Die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in Suid-Afrika ‘n honderd jaar gelede word vandag herdenk. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê ‘n kulturele, politieke en maatskaplike stryd wat dekades lank strek, en gewortel is in die strewe na Afrikaner-identiteit en selfbeskikking, het gelei tot die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in 1925:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….