Nuus 11:00
BULLETIN 5 Mei 11vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering sal steeds arbeidswette gebruik om die verlede reg te stel
# Die DA sê Kaapstad se kredietopgradering is ‘n bewys van goeie regering en dienslewering
# En Donald Trump wil hê Alcatraz moet heropen word vir meedoënlose en gewelddadige oortreders
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het die afgelope 31 jaar beduidende vordering gemaak om arbeidswette te verbeter en werkers se regte te beskerm. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die land se arbeidswette is deel van ‘n poging om die strukturele ongelykheid van apartheid te oorkom. Ramaphosa sê die stimulering van ekonomiese groei en werkskepping en die beskerming van werkers is noodsaaklik vir mekaar. Hy sê die jongste verslag van die Kommissie vir Gelyke Indiensneming toon dat baie meer werk nodig is om die rasgegronde ongelykhede in die ekonomie te beëindig.
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het berigte verwerp oor ‘n opstand deur sekere lede van die party se parlementêre koukus. Volgens City Press het lede van die koukus Vrydag in ‘n vergadering geëis dat die DA uit die regering van nasionale eenheid geskop moet word. Mbalula het op ‘n nuuskonferensie ná ‘n tussenverkiesingsveldtog in Freedom Park, Soweto, gesê die parlementêre koukus neem nie besluite namens die ANC nie:
# Die DA sê die Stad Kaapstad se kredietgraderingsopgradering van Moody’s is ‘n onderskrywing van die metro se gesonde finansiële bestuur en toewyding aan werklike dienslewering. Die graderingsagentskap se assessering het die metro se finansiële bestuur as sterk gekarakteriseer en die goeie bestuur en ambisieuse infrastruktuurplanne geprys. Die DA se nasionale woordvoerder, Willie Aucamp, sê Kaapstad sal oor die volgende twee jaar 23-miljard-rand in infrastruktuur belê om veerkragtigheid te verbeter:
# President Donald Trump het die Gevangenisowerheid opdrag gegee om die Alcatraz-tronk te heropen en uit te brei sodat Amerika se mees gewetenlose en gewelddadige misdadigers daar gehuisves kan word. Alcatraz was berug as een van Amerika se ergste tronke. Dis in 1963 gesluit en is nou ‘n toeriste-aantreklikheid. Trump het op Truth Social gesê die land sal nie langer gyselaar gehou word deur misdadigers, boewe en regters wat bang is om hulle werk te doen en toelaat dat misdadigers die land onwettig binnekom nie.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het oorheers om die Byron Nelson-toernooi in Texas te wen vir sy eerste sege vanjaar. Die Amerikaner het ‘n laaste ronde van agt-onder-baansyfer-63 aangeteken om op 31 onder klaar te maak – agt houe voor die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen – vir sy 14de PGA-toertitel. Van Rooyen het Scheffler se 63 geëwenaar om op 23 onder baansyfer te eindig, drie houe voor die Amerikaner Sam Stevens. Scheffler was vol lof vir Van Rooyen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-637-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-263-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 59-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….