Nuus 11:00
BULLETIN 4 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vyftien sterf in die Oos-Kaap in ‘n botsing reg van voor
# Gautengse munisipaliteite word verenig om misdaad te bekamp ná ‘n mylpaal-ooreenkoms
# Rugby: Die Blitsbokke is deur na die halfeindronde van die Sewes-Wêreldkampioenskap
# Vyftien mense is dood in ‘n botsing reg van voor op die R63 tussen Adelaide en Maqoma in die Oos-Kaap gisteraand tussen ‘n volgelaaide minibustaxi en ‘n bakkie. Die provinsie se woordvoerder oor Vervoer, Unathi Binqose, sê 13 mense, insluitend die twee bestuurders, is op die toneel dood. Nog twee het in die hospitaal aan hul beserings beswyk. ‘n Geregtelike ondersoek is begin:
Die UDM in Kaapstad het die voorval veroordeel waarin Kelly Smith se huis in Middelpos afgebrand is ná haar skuldigbevinding in haar dogter, Joslin, se ontvoeringsaak. Smith en twee medebeskuldigdes is skuldig bevind aan mensehandel en ontvoering. ‘n Woordvoerder, Bongani Maqungwana, vra die publiek om nie die reg in eie hande te neem nie en die oppergesag van die reg te respekteer. Hy het ook beklemtoon dat hulle pogings voortsit om Joslin te vind:
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, het ‘n mylpaal-ooreenkoms aangekondig wat alle munisipaliteite in die provinsie verenig om hul bronne vir polisiëring saam aan te wend in die stryd teen misdaad. Metro-polisiebeamptes sal oor munisipale grense heen optree en geïntegreerde wetstoepassing bevorder. Lesufi het op die lekgotla van die ANC se Provinsiale Taakspan gesê dit was noodsaaklik om die veiligheid van alle Gautengers te verseker:
# Suid-Afrika gaan sy ambassade in Sofia, Bulgarye, teen 30 Junie sluit weens finansiële beperkings en ‘n strategiese herbelyning. Die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking verseker egter dat die stap nié bilaterale betrekkinge sal beïnvloed nie. Die diplomatieke pligte word na Suid-Afrika se sending in Athene, Griekeland, verskuif. Die departement sê Suid-Afrika het waardering vir Bulgarye se ambassade in Pretoria en hoop om die kantoor in Sofia te heropen wanneer dit weer finansieel haalbaar is.
# Anthony Albanese van Australië het gister ‘n geskiedkundige tweede termyn as premier gewen in ‘n dramatiese ommeswaai teen konserwatiewes, vanweë kiesers se kommer oor die invloed van president Donald Trump van Amerika. Die leier van die konserwatiewe Liberale Party, Peter Dutton, het die nederlaag en die verlies van sy eie setel erken. Dit is ‘n weerspieëling van die lot van Kanada se konserwatiewes en hul leier wie se nederlaag by die stembus moontlik ‘n reaksie teen Trump is. Albanese sê Australiërs het gestem vir billikheid en die krag om moed in teëspoed te toon en vriendelikheid teenoor mense in nood.
# En, Rugby: Die Blitsbokke is deur na die halfeindronde van die Wêreldkampioenskap-sewestoernooi in Los Angeles nadat hulle al hul Groep A-wedstryde gewen het. Philip Snyman se spelers het hul veldtog gister met ‘n oorwinning van 19-10 oor Frankryk afgeskop en toe vir Groot-Brittanje met 12-7 geklop voordat hulle die ligawenners, Argentinië, in die Dignity Health-stadion met 29-21 getroef het. Hulle speel volgende teen hul aartsvyand, Nieu-Seeland, wat gelykop was met Australië met sewe elk, maar deurgedring het danksy ‘n beter punteverskil.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….