Nuus 11:00
BULLETIN 2 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# GOOD vra minister Godongwana om sy belofte oor maatskaplike besteding na te kom
# ActionSA eis fiskale dissipline in Johannesburg
# En, Sokker: Die Engelse sokkervereniging verbied transgender-vroue in spel om in Engeland te speel
# Die GOOD-party vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om sy belofte oor maatskaplike besteding na te kom. Die minister lê sy begroting op 21 Mei die derde keer ter tafel. Dit volg ná twee mislukte pogings weens konflik tussen partye oor die voorgestelde BTW-verhoging wat intussen geskrap is. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê maatskaplike besteding is nie ‘n luukse of politieke guns nie, maar ʼn grondwetlike verpligting:
# Die kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê die departement beoog om meer kameras by alle korrektiewe dienssentrums regoor die land te installeer. Die dood van ‘n gevangene, Quinton Fortuin, in die Goodwood Korrektiewe Sentrum in Kaapstad tydens ‘n bakleiery met korrektiewe beamptes het tot die planne aanleiding gegee. Thobakgale sê die installering van meer kameras sal help dat alle plekke in korrektiewe fasiliteite bekyk kan word:
# ActionSA sê hy is bekommerd oor die houding wat die Stad Johannesburg se uitvoerende gesag ingeneem het om ‘n oplossing te vind vir die metro se finansiële krisis. Die uitvoerende gesag soek befondsing van buitelandse banke, insluitend die Afrika-ontwikkelingsbank en die Internasionale Finansieringskorporasie. Elmari Atterbury van ActionSA sê die raad het in Januarie ‘n lening van twee-komma-agt-miljard rand goedgekeur, maar drie maande later pleit die uitvoerende gesag by die raad om nóg ‘n lening van 700-miljoen-rand goed te keur:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het Mike Waltz uit sy pos as nasionale veiligheidsraadgewer verwyder. Waltz het sedert Maart kritiek in die gesig gestaar nadat hy erken het dat hy per ongeluk ‘n joernalis by ‘n Signal-kletsgroep gevoeg wat sensitiewe inligting oor Amerikaanse missielaanvalle gedeel het. In ‘n plasing op Truth Social het Trump aangekondig dat hy Waltz as ambassadeur by die Verenigde Nasies sal benoem. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het die pos van nasionale veiligheidsraadgewer op ‘n tussentydse basis oorgeneem.
# Sokker: Die Engelse Sokkervereniging het bevestig dat transgender-vroue van 1 Junie af nie meer in die vroue-afdeling in Engeland kan speel nie. Dit volg op die Britse Hooggeregshof se uitspraak dat die wetlike definisie van ‘n vrou gegrond is op biologiese geslag. Die FA sê hulle verstaan dat hierdie besluit moeilik sal wees vir mense wat bloot die spel wil speel waarvan hulle hou in die geslag waarmee hulle identifiseer. Ongeveer 20 transgender-vroue het hierdie seisoen in Engelse grondvlakwedstryde gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 20-rand-87-sent teen die euro en 24-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-738-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-252-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….