Nuus 11:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 1 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê Werkersdag is ‘n kragtige herrinnering aan die stryd en swaar verworwe vordering
# Advokaat Batohi veroordeel die moord op ‘n jong aanklaar van die Distrikshof in die Oos-Kaap
# En tennis: Aryna Sabalenka en Iga Swiakek is deur na die halfeindronde in Madrid
# Die GOOD Party sê Werkersdag is ‘n kragtige herinnering aan die stryd en swaar verworwe vordering van werkers en die arbeidsbeweging. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrika moet ook aandag skenk aan die dringende behoefte aan sterk, inklusiewe ekonomiese hervorming wat werk skep en kleinsake ondersteun. Hy sê tensy die land ‘n volgehoue ekonomiese groeikoers van vyf-persent kan behaal, sal Suid-Afrika sy werkloosheid nie betekenisvol kan verminder nie:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het herhaal dat die Parlement gereed is om die hersiene Begroting en Fiskale Raamwerk vinnig en verantwoordelik binne die wetlik voorgeskrewe tydsraamwerk te verwerk en te aanvaar. Sy het bevestig die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sal die hersiene begroting op 21 Mei in die Parlement voorlê. Didiza sê alles moontlik word gedoen om te verseker die regering se werk gaan naatloos voort:
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Advokaat Shamila Batohi, het die moord op ‘n jong aanklaer van die Distrikshof, Elona Sombulula, veroordeel. Die 30-jarige het in 2022 by die Nasionale Vervolgingsgesag aangesluit deur die program vir aspirant-aanklaers. Sombulula het as streekshofaanklaer by die Landdroshof in Ngcobo in die Oos-Kaap waargeneem toe hy Dinsdagaand doodgeskiet is. Die NVG-woordvoerder, Luxolo Tyali, sê die polisie werk onverpoosd om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry.
# President Donald Trump het vir nog tyd gevra vir die Amerikaanse ekonomie wat teen ‘n jaarlikse koers van 0,3-persent gekrimp het. Dit volg nadat dit die vorige kwartaal met 2,4-persent gegroei het. Kommer bestaan nou oor ‘n resessie. Trump het egter sy voorganger, Joe Biden, die skuld gegee vir die teleurstellende syfers en gesê dit is misleidend omdat maatskappye invoere opgegaar het voordat hy tariewe ingestel het. Trump se invoerbelasting het wêreldhandel en markte ontwrig, terwyl meningspeilings openbare ontevredenheid met sy ekonomiese rentmeesterskap toon.
# En om mee af te sluit tennisnuus: Verlede jaar se naaswenner, Aryna Sabalenka, het Woensdag Oekraïne se Marta Kostyuk geklop om vir ‘n vierde keer na die halfeindronde van die Madrid Ope deur te dring. Sabalenka speel nou teen nog ‘n Oekraïnse speler, Ilina Svitolina, die eerste Oekraïnse vrou om ‘n halfeindronde in Madrid te haal. Iga Swiatek is ook steeds in die wedloop om haar Madrid Ope-titel suksesvol te verdedig nadat sy die Amerikaner Madison Keys geklop het. Sy sal in haar derde agtereenvolgende halfeindstryd in die Madrid Ope teen Coco Gauff te staan kom.