Nuus 11:00
BULLETIN 30 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu kritiseer die DA se aanval op die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming
# Dali Mpofu verskyn vandag voor die Regspraktykraad oor beweerde wangedrag
# En die VN-hoof waarsku die tweestaatoplossing vir Israel en Palestina is in gevaar
# Cosatu sê hy is is ontsteld oor die DA se vals aanval op Gelyke Indiensneming. Die DA het ‘n hofaansoek ingedien wat die kwotas vir gelyke indiensneming in die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming betwis, wat volgens hulle bloot rasse-uitsluiting onder ‘n nuwe naam is. Die wet bepaal aanstellingskwotas vir ekonomiese sektore, insluitend mynbou en vervoer, die boubedryf en landbou. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle is vol vertroue dat die DA se aansoek van die hand gewys sal word:
# Advokaat Dali Mpofu verskyn vandag voor die Regspraktykraad in ‘n tugverhoor oor vermeende wangedrag. Die MK-partylid staar aanklagte in die gesig wat by die raad ingedien is. Dit hou verband met beweerde neerhalende en seksistiese opmerkings tydens verhore, en die manier waarop hy getuies se kruisondervraging hanteer. Vier van die aanklagte het betrekking op Mpofu se optrede tydens die Artikel 194-ondersoek in 2022 na voormalige Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane se bevoegdheid vir haar amp. Mpofu sê die aanklagte is ligsinnig en heeltemal onvolhoubaar.
# Die Vereniging vir Staatsamptenare is woedend oor die Gautengse regering se buitensporige besteding op die huur van kantoorruimte vir provinsiale departemente. Die LUR vir Infrastruktuurontwikkeling, Jacob Mamabolo het onlangs onthul dat 34-miljoen-rand per maand op die huur van kantore bestee word, ondanks die feit dat die provinsiale regering 41 geboue wat leegstaan besit. Claude Naiker van die vereniging sê die verkwistende uitgawe is onaanvaarbaar veral omdat die geld beter aangewend kan word om openbare dienste en infrastruktuur te verbeter:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku dat die belofte van ‘n tweestaat-oplossing vir Israel en Palestina naby ineenstorting is. Gevegte duur voort in Gaza, met Israel wat sy grond- en lugoperasies oor die enklawe verskerp het in ‘n poging om Hamas uit te roei. Byna tweeduisend Palestyne is dood sedert die skietstaking in Maart ineengestort het. Guterres het sy oproepe herhaal vir ‘n onmiddellike en blywende wapenstilstand, die onvoorwaardelike vrylating van alle gyselaars en volle humanitêre toegang:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic het sonder rede uit die Italiaanse Ope onttrek. Die Serwiër het nog elke seisoen sedert 2007 in Rome deelgeneem en die toernooi ses keer gewen. Djokovic wat nie op sy beste is nie, is onlangs vroeg reeds uit twee kleibaantoernooie, Monte Carlo en Madrid geboender. Die Franse Ope, wat die wêreld se nommer-vyf al drie keer gewen het, is die tweede Grand Slam en begin op 26 Mei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-771-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-306-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….