Nuus 11:00
BULLETIN 29 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n News24-ondersoek onthul die man agter ’n X-rekening wat na bewering waninligting oor Suid-Afrika versprei
# Malema sê die begrotingsproses moet van die Tesourie weggeneem word
# En Mark Carney se Liberale Party wen die Kanadese verkiesing
# Die man agter Boer @twatterbaas, ‘n X-rekening wat gebruik is om volgens News24 waninligting oor Suid-Afrika, soos plaasmoorde en grondbesettings, te versprei, is geïdentifiseer as Sebastiaan Jooste. ʼn News24-ondersoek het onthul dat Twatterbaas jare lank opgetree het as brug tussen Suid-Afrikaanse konserwatiewes en die sogenaamde MAGA-regses in Amerika. Die ondersoek onthul byna 300 interaksies tussen Jooste en miljardêr Elon Musk sedert Junie 2024, waar die 46-jarige gewese boer 274 keer op Musk se inskrywings gereageer of dit weer geplaas het. Die ontleding voer ook aan dat Jooste se rekening blykbaar ideologies gedrewe is.
# Die EFF-leier Julius Malema stel voor die hele begrotingsproses moet van die Nasionale Tesourie weggeneem word. Dit volg na ‘n bevel van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat die 0,5-persent BTW-verhoging opskort wat Donderdag in werking sou tree. Malema sê die EFF waarsku al lankal dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana en die bestuur van Tesourie onbevoeg en onbetroubaar is en nie die vermoë het om ‘n geloofwaardige en wettige begroting ter tafel te lê nie:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die Grensbestuursowerheid se Paasveldtog is aangedryf deur die digitale hervormingsproses wat nou in volle swang is. Die owerheid het vanjaar ses-duisend-253 pogings om die land onwettig binne te kom, gefnuik teenoor slegs drie-duisend-841 in 2024. Dit is ʼn toename van 63-persent. Schreiber sê die doeltreffendheid van grensbeheer word toenemend verbeter:
# Kanada se Liberale Party, gelei deur die eerste minister Mark Carney, het die land se federale verkiesing gewen. Daar is verwag dat die Liberale meer van die 343 setels in die Parlement as die Konserwatiewe Party sou wen. Weens die geringe meerderheid is dit egter nog onseker of hy ʼn volstrekte meerderheid het, of hy op ander partye sal moet staat maak om te regeer. Carney het in sy oorwinningstoespraak gesê Kanada bevind hom nou op ʼn keerpunt in die geskiedenis waar sy ou verhouding van integrasie met Amerika verby is:
# Rugby: Lee Blackett en Byron McGuigan sal by Steve Borthwick se Engelse afrigtingspan aansluit vir die komende toer na Argentinië en die VSA in Julie. Blackett vervang Richard Wigglesworth terwyl hy as hulpafrigter by die Britse en Ierse Leeus in Australië aan diens is. McGuigan sal saam met Joe El-Abd as hulpverdedigingsafrigter werk. Borthwick sê beide Blackett en McGuigan het ‘n ingesteldheid en benadering tot hul afrigting wat baie ooreenstem met hoe hy wil hê die span moet aanhou speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-780-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-316-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….