Nuus 11:00
BULLETIN 25 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana publiseer ‘n wetsontwerp om die BTW-verhoging om te swaai
# TLU SA sê die skrapping van die BTW-verhoging is bloot ‘n pleister op ‘n oop wond
# En, MTN loop deur onder ‘n kuberaanval wat sy kliënte-inligting in gevaar stel
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die Wetsontwerp op Tariewe en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewet amptelik in die Staatskoerant gepubliseer. Die gewysigde wetgewing wat die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte omkeer wat in Maart se begroting aangekondig is, moet steeds in die Parlement oorweeg word. Die skrapping laat ‘n fiskale tekort van 75-miljard-rand. Godongwana het aan die SABC gesê hy het die besluit geneem nadat die Parlement versoek het dat hy met politieke partye beraadslaag:
Die landbou-organisasie TLU SA sê intussen die land se grootste tekortkoming is nie ʼn fiskale tekort nie, maar ʼn gebrek aan integriteit, bevoegdheid en politieke wil. Die organisasie het die skrapping van die BTW-verhoging verwelkom, maar sê dis bloot ʼn pleister op ʼn oop wond. Bennie van Zyl van TLU SA sê die ekonomiese krisis is nie die gevolg van een fiskale besluit nie, maar van dekade-lange skadelike beleid:
# Die selfoonmaatskappy MTN sê hy het onder ‘n kuberaanval deurgeloop wat persoonlike data van sommige kliënte in sekere van sy markte blootgestel het. MTN sê ‘n ongeïdentifiseerde derde party het aangevoer hy het gedeeltes van sy stelsel binnegedring, maar hy kon in die stadium geen bewyse vind dat enige van sy noodsaaklike infrastruktuurplatforms of dienste geraak is nie. MTN sê sy kernnetwerk, rekeningstelsel en finansiële dienste-infrastruktuur is steeds veilig en ten volle in bedryf. Hy voeg by die kuberaanval is by die polisie en die Valke aangemeld.
# Die vakbondfederasie Saftu veroordeel die oorlog in Oekraïne en sê dit word nie in die belang van demokrasie of vrede gevoer nie. Die Russiese president, Vladimir Putin, het in 2022 ‘n volskaalse inval in Oekraïne geloods en Moskou beheer nou byna 20-persent van Oekraïne se grondgebied. Saftu sê die oorlog word aangevuur deur kapitalistiese wedywering, militêre uitbreidingsdrang en die soeke na streeks- en wêreldoorheersing. Die federasie doen ‘n beroep vir ‘n onmiddellike skietstaking en ‘n diplomatieke oplossing.
# Sokker: Die president van Afrika se beheerliggaam, Patrice Motsepe, glo vanjaar se Afrikabekertoernooi in Marokko gaan die suksesvolste in die geskiedenis van die kompetisie wees. Die toernooi sal van 21 Desember tot 18 Januarie gespeel word. Motsepe sê Marokko is ook gereed om 2030 se Wêreldbekertoernooi saam met ander lande aan te bied:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 21-rand-38-sent teen die euro en 25-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-756-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….