Nuus 11:00
BULLETIN 24 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die skrapping van die BTW-verhoging is ‘n oorwinning vir Suid-Afrikaners
# Die Tembisa-hospitaal is steeds oop ondanks twee brande
# En ten minste nege mense is dood en meer as 60 beseer in Russiese aanvalle op Kiëf
# Die DA sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit om die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte te skrap, is ‘n draaipunt in die stryd om Suid-Afrikaners teen ongeregverdigde finansiële laste te beskerm. Die party sê hy het ʼn voorstel van Godongwana se prokureurs ontvang om buite die hof te skik oor sy aansoek om ‘n interdik teen die verhoging. Die voorsitter van die party se federale raad, Helen Zille, sê die minister sou dit nie omgekeer het as dit nie vir die DA was nie:
# President Cyril Ramaphosa voer samesprekings oor die aanstelling van ʼn adjunkhoofregter met die Regterlike Dienskommissie en leiers van politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig word. Die posisie is sedert 1 September verlede jaar vakant toe die destydse adjunk, Mandisa Maya, as hoofregter aangestel is. Die kandidate is Gauteng se regter-president, Dunstan Mlambo, die president van die Appèlhof, Mahube Molemela, die Vrystaatse regter-president, Cagney Musi, en die Noord-Kaapse regter-president, Pule Tlaletsi.
# Die adjunkminister van gesondheid, Joe Phaahla, het die publiek gerusgestel dat diens voortgaan by die Tembisa Provinsiale Tersiêre Hospitaalin Gauteng ondanks ‘n tweede brand wat gisteroggend by die buitepasiënte-afdeling uitgebreek het. Die naweek se brand het die noodeenheid verwoes en noodsaaklike mediese toerusting vernietig. Phaahla sê die oorsake van albei voorvalle word deur verskeie wetstoepassingspanne en reguleerders ondersoek:
# Minstens nege mense is vroeg vanoggend dood en meer as 60 beseer in Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle op die Oekraïnse hoofstad, Kiëf. Die gewondes sluit ses kinders in. Oekraïne se tweede grootste stad, Kharkiv, is oornag getref deur sewe missiele en 12 hommeltuie. Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, beskuldig het dat hy vredesonderhandelings in die wiele ry. Die Russiese Weermag het nog nie kommentaar gelewer nie, maar sê hy het 87 Oekraïnse hommeltuie onderskep, en nog 45 oor die Krimgebied.
# Tennis: Gael Monfils van Frankryk het die Kroatiese kwalifiseerder, Borna Gojo, geklop om sy eerste Madridse Ope-wedstryd sedert 2022 te wen. Die 38-jarige, wat die oudste wedstrydwenner in die toernooi se geskiedenis is, speel in die tweede ronde teen die Rus Andrey Rublev. In die vroueafdeling het die Britse nommer twee, Emma Raducanu, ʼn welverdiende sege oor die Nederlander, Suzan Lamens, behaal. Die tweemalige Wimbledon-kampioen van Tsjeggië, Petra Kvitova, het haar vierde nederlaag gely toe sy teen die Amerikaner, Katie Volynets, verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 21-rand-9-sent teen die euro en 24-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-635-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….