Nuus 11:00
BULLETIN 22 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA beweer die DA was betrokke by die BTW-verhoging ten spyte van openbare teenkanting
# EFF sê die stilte oor die Mashatile-skietvoorval is kommerwekkend
# En tennis: Alcaraz het nuwe respek vir Nadal weens die uitmergelende kleibaanseisoen
# ActionSA beskuldig die DA van skynheiligheid oor die omstrede beoogde BTW-verhoging, ondanks die DA se openbare teenkanting daarteen. Alan Beesley van Action SA sê die DA se woordvoerder oor Finansies, Ashor Sarupen, was betrokke by die opstel van die oorspronklike begrotingsrede waarin die verhoging ingesluit is. Beesley beweer die DA se optrede was om politieke redes om invloed in die regering van nasionale eenheid te verkry voor vandag se hofsaak:
# Die EFF het kommer uitgespreek oor ‘n skietery op adjunkpresident Paul Mashatile se konvooi. Mashatile was drie weke gelede op pad terug van ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Boksburg, Gauteng, toe skote op sy konvooi afgevuur is. Die EFF sê die Presidensie en staatsveiligheidsagentskappe se stilte oor die besonderhede van die voorval wek ook kommer. Hy sê enige aanval op die nasie se tweede in bevel bedreig boonop nasionale sekerheid.
# Die DA in die Wes-Kaap versoek Transnet om sy bedrywighede oop te stel vir kundigheid en sinvolle beleggings uit die privaat sektor. Die party verwelkom die samewerking tussen die sektor en die Wes-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme oor die befondsing en installering van twee kragopwekkers by die Kaapstadse hawe. Noko Masipa van die DA sê Transnet en die hawe moet optree om toe te sien dat vennootskappe wat die privaat sektor steun, omgeskakel word in meetbare verbeterings in doeltreffendheid.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê pous Franciskus was ʼn voortreflike stem vir vrede, menswaardigheid en maatskaplike geregtigheid. Die 88-jarige pous, wat die eerste Latyns-Amerikaanse leier van die Rooms-Katolieke Kerk was, is gisteroggend aan ‘n beroerte en hartversaking dood. Guterres het by die wêreld aangesluit om oor pous Franciskus se dood te rou en sê sy nalatenskap sluit geloof, diens en deernis vir almal in:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het opnuut respek gekry vir sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, tydens Europa se moordende kleibaanseisoen. Die wêreld-nommer-twee het teen die Deen Holger Rune verloor in die eindstryd van die Bacelona-ope nadat hy verlede week die Monte-Carlo-meesterstoernooi gewen het. Alcaraz gaan ook dié week aan nog ‘n toernooi in sy vaderland deelneem – die Madridse Ope. Die kleibaanseisoen sluit af met die Franse Ope, wat Nadal ‘n rekord-14 keer gewen het. Alcaraz sê dis moeilik om binne dae by ‘n volgende toernooi aan te pas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 21-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-255-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-474-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….