Nuus 11:00
BULLETIN 21 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SANW beplan die repatriasie van nóg soldate uit die DRK
# Minister Kubayi sê Shivambu kan nie aangekla word weens sy besoek aan die voortvlugtende Bushiri nie
# En Netbal Suid-Afrika se president word deur die wêreldliggaam geskors
# Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, het aangekondig dat planne gevorderd is om soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo ontplooi is, veilig na Suid-Afrika terug te bring. Hul terugkeer hang af van die strydende groepe se onderhandelings oor ‘n skietstilstand. Motshekga het op die Randse Paasskou in Johannesburg gesê hulle gefinaliseer die logistiek, insluitend moontlike roetes weens die sluiting van die Goma-lughawe:
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, sê die sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, kan nie wetlik vervolg word weens sy bywoning van ‘n Paasdiens in Shepherd Bushiri se kerk in Malawi nie. Suid-Afrika probeer om die pastoor en sy vrou, Mary, aan Suid-Afrika uitgelewer te kry om op verskeie aanklagte verhoor te word. Kubayi sê Shivambu het die land in sy persoonlike hoedanigheid besoek. Sy het die besoek egter as blatante minagting van die regstelsel veroordeel en gesê sy optrede spoor voortvlugtiges aan.
# ‘n Deurlopende toename in verkeer na Gauteng word vandag verwag namate reisigers ná die Paasnaweek terugkeer huis toe. Die N3-tolkonsessie se woordvoerder, Thania Dhoogra, sê die verkeersdruk sal van vanoggend toeneem en tot agtuur vanaand duur. Die Padverkeersinspektoraat kan spesiale maatreëls langs Van Reenenspas toepas. Dhoogra vra motoriste moet waaksaam wees, vooruit beplan en by veranderende toestande aanpas om veiligheid te verseker:
Limpopo se Toerisme-agentskap berig intussen dat meer as twee-miljoen mense die provinsie hierdie Paasnaweek besoek het, wat vorige rekords oortref. Uitvoerende hoof Moses Ngobeni skryf dit toe aan die Zion Christian Church se pelgrimstog na Moria wat hervat is nadat dit die afgelope vyf jaar nie plaasgevind het nie weens Covid-19. Die St Engenas ZCC het ook sy saamtrek vir Paasfees hervat, wat die toerismesyfer verder opgestoot het. Ngobeni sê plaaslike gemeenskappe het ekonomies daarby baat gevind omdat meer bedrywighede in townships en dorpe plaasgevind het.
# En Wêreldnetbal het Netbal Suid-Afrika se president, Cecilia Molokwane, voorlopig geskors hangende ‘n tugverhoor. Netbal Suid-Afrika sê hy is nie bewus van die spesifieke aanklagte nie. Die vise-president, Mami Diale, sal as president waarneem. Molokwane is ook president van Afrika Netbal en ‘n raadslid van Wêreldnetbal. Sy probeer om vanjaar vir ‘n derde termyn verkies te word, en het na bewering amptenare opsy geskuif wat haar herverkiesing teengestaan het. Wêreldnetbal waarsku dat Netbal SA geskors kan word as Molokwane aanbly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….