Nuus 11:00
BULLETIN 19 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis dat vakante poste vir globale handelsbeamptes vinnig gevul word
# Eskom sê daar is voldoende kapasiteit beskikbaar vir die die langnaweek-aanvraag
# En Motorsport: Lando Norris gee die pas aan in Saoedi-Arabië
# Die DA het kommer uitgespreek oor die 30 handelsbeampteposte by Suid-Afrikaanse ambassades en missies in die buiteland wat sedert Desember 2023 nie gevul is nie. Die handelsbeamptes is verantwoordelik vir die bevordering van regstreekse buitelandse belegging in die land. Die DA doen ‘n beroep op die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om die hersieningsproses af te handel en dringend gekwalifiseerde persone aan te stel. Die party voeg by hierdie rolle moet gevul word deur individue wat Suid-Afrika se ekonomiese landskap verstaan, geleenthede kan identifiseer en bewyse kan lewer dat hulle ervaring het om beleggings te lok.
# Eskom sê die kragstelsel bly bestendig met voldoende kapasiteit om voorsiening te maak vir die langnaweek-aanvraag. Deurlopende beplande instandhouding duur voort teen 15,41-persent-opwekkingskapasiteit, wat ‘n 3,8-persent toename is in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê ‘n alghehele drie-duisend-948 megawatt sal Dinsdag voor die aandspitstyd weer in diens gestel word om te verseker die netwerk is steeds bestendig:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys eis gevolgsbestuur by die Walter Sisulu Universiteit ná die noodlottige skietery van ‘n student, Sisonke Mbolekwa. Hy is na bewering Dinsdag tydens ‘n studentebetoging deur ‘n koshuisbestuurder geskiet. ‘n Verdagte is reeds in hegtenis geneem. Die komitee se voorsitter, Tebogo Letsie, het aan Newzroom Afrika gesê die universiteit se ongegronde bewering dat Mbolekwa nie ‘n geregistreerde student is nie, is onaanvaarbaar:
# Oekraïne het sanksies teen drie Chinese ondernemings ingestel en beweer hulle was betrokke by die vervaardiging van gevorderde Russiese Iskander-missiele. Moskou gebruik gereeld die kortafstand ballistiese missielstelsel in sy oorlog teen Kiëf. Vrydag is en persoon dood en meer as 100 is beseer toe Iskander-missiele Kharkiv getref het. Die drie ondernemings sal nie sake kan doen met Oekraïne nie, en enige bates wat hulle in die land het, sal gevries word. China ontken herhaaldelik dat hy soldate of wapens na Rusland stuur.
# Motorsport: McLaren bly die span om te klop by die naweek se Saoedi-Arabiese Grand Prix, nadat Lando Norris in Vrydag se oefening die pas aangegee het. Die Brit was vinniger as sy spanmaat, Oscar Piastri, met Max Verstappen van Red Bull in die derde plek. Charles Leclerc van Ferrari was vierde voor Carlos Sainz van Williams. Norris loop met drie punte meer as Piastri voor in die Renjaerskampioenskap en Verstappen is agt punte agter, terwyl George Russell 14 punte agter is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….