Nuus 11:00
BULLETIN 17 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika het nie wêreld-handelsbeamptes nie
# OUTA wil hê ministeriële voordele wat nie deursigtig is nie, moet geskrap word
# En druk verkeerstoestande word van vandag op die N3-tolroete verwag
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het onthul dat Suid-Afrika sedert Desember 2023 nie handelsamptenare het om regstreekse buitelandse beleggings in die land te bemiddel nie. Die departement bestuur 45 handelskantore, waarvan die meeste in Suid-Afrikaanse sendings in die buiteland gehuisves word. Dit sluit lande soos Amerika, China, Frankryk en Asiatiese lande in. Tau het op ‘n vraag in die Parlement geantwoord sy departement is besig met ‘n hersiening van die benadering tot handelsamptenare en die voetspoor van die markte waarheen hulle ontplooi sal word.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die Parlement om beheer te verskerp oor ministers se voordele. OUTA wil hê alle veranderings aan byvoordele moet hersien, bereken en openbaar gemaak word. Dit volg ná ‘n voorlegging wat die Wysigingswetsontwerp op die Vergoeding van Openbare Ampsdraers steun, om te keer dat byvoordele toegestaan word sonder behoorlike toesig. Stefanie Fick van OUTA sê die huidige stelsel laat ministers toe om voordele soos gratis water en elektrisiteit te ontvang sonder openbare of parlementêre insae:
# Die N3-Tolpadkonsessie waarsku motoriste om van vandag af verkeersopeenhopings en stadiger reistye te verwag aan die begin van Paasnaweek. Die tolpad strek oor vier provinsies – Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal – en is ‘n belangrike vervoer- en handelsroete. Die konsessie se woordvoerder, Thania Dhrooga, sê suidwaartse verkeersvolumes na KwaZulu-Natal behoort van 12-uur vandag toe te neem:
# Oekraïne se veiligheidsdiens sê hy hou nege mense, insluitend vyf tieners, aan wat volgens berigte sabotasie beplan het namens Russiese veiligheidsdienste. Sommige van die verdagtes het na bewering beplan om plofstof naby woongebiede of spoorlyne te stel. Die diens sê die verdagtes is op Telegram gewerf met beloftes van kontantbelonings. Kiëf sê hy het ‘n toenemende aantal sabotasiekomplotte voorkom wat Oekraïnse kinders in opdrag van Moskou beplan het.
# Rugby: Kaptein Nolusindiso Booi maak Saterdag geskiedenis wanneer sy die eerste Springbok-vrouespeler word wat in 50 toetse uitgedraf het. Suid-Afrika speel teen Spanje in Elche in hul eerste toets van die seisoen. Booi behaal dié prestasie nadat sy 15 jaar gelede, in 2010, haar buiging gemaak het. Prestasie-afrigter Swys de Bruin sê Booi is ʼn goeie voorbeeld vir almal wat by vrouerugby betrokke is:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-740-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….