Nuus 11:00
BULLETIN 12 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Morolong sê die regering wil ’n inklusiewe medialandskap in Suid-Afrika vestig
# Die DA kritiseer Lugverkeernavigasiedienste by George-lughawe namate winter-reise toeneem
# En, die Augrabies-waterval dreun terwyl die Oranjerivier styg
# Die adjunkminister in die presidensie, Kenny Morolong, sê die regering wil saam met rolspelers in die bedryf werk om seker te maak Suid-Afrika se medialandskap is inklusief, mededingend en verteenwoordigend van die land se verskeidenheid. Hy het in Rosebank, Johannesburg, met hoofde in die mediabedryf vergader wat deel is van die gedrukte en digitale media se hervorming- en herlewing-bestuurskomitee. Morolong sê hulle werk aan betekenisvolle hervorming en langtermynvolhoubaarheid in die mediabedryf om seker te maak alle Suid-Afrikaners se stemme word gehoor:
# Die DA sê met die winter wat aanbreek, is die George-lughawe in die Wes-Kaap in die duister gelaat weens Lugverkeernavigasiedienste wat nie sy vlugveiligheidsprosedures bywerk nie. Volgens die party het alternatiewe voldoeningsmaatreëls hierdie week verval, maar geen duidelike tydlyn is gegee vir die bygewerkte protokolle nie. Dagligure is reeds korter en daar is beperkte landingstelsels. Die DA-lid Noko Masipa, waarsku dit kan passasiers se veiligheid, toerisme en plaaslike ondernemings nadelig beïnvloed:
# Die president van die Rooikruis-komitee, Mirjana Spoljaric, het die situasie in Gaza as “hel op aarde” beskryf en waarsku hulle veldhospitaal sal binne twee weke geen voorrade hê nie. Sy sê in baie dele het mense nie toegang tot water, elektrisiteit en kos nie. Geen nuwe humanitêre hulp kon die Palestynse gebied binnegaan sedert Israel toegang vir vragmotors met hulpvoorrade op 2 Maart verbied het nie.
# Gholf: Justin Rose is een hou voor Bryson DeChambeau na gister se tweede ronde van die 89ste Meesters terwyl Rory McIlroy weer ‘n kans het na sy verstommende laaste nege putjies by die Augusta National. Die 2011-wenner, Charl Schwartzel, het 72 aangeteken en deel die 40ste plek op twee oor baansyfer 146. Twee ander Suid-Afrikaners, Christiaan Bezuidenhout met sewe oor 151, en Thriston Lawrence met 11 oor 155, het nie die paal gehaal ná onderskeidelik ronde 75 en 76 nie.
# En ten slotte, die Augrabies-waterval in die Noord-Kaap dreun weer terwyl watervlakke voor die Paasvakansie styg. Die Oranjerivier vloei baie sterker as gewoonlik en het hierdie week 427 kubieke meter per sekonde behaal. Die Departement van Water en Sanitasie sê die vloei kan teen Goeie Vrydag ’n hoogtepunt van drie-duisend kubieke meter per sekonde bereik, ná onlangse reën en damvrystellings. Besoekers aan die Augrabies-waterval Nasionale Park kan vir die volgende twee weke uitsien na ’n kragtige waterval-vertoning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….