Nuus 11:00
BULLETIN 10 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê sy vergadering met die ANC oor die begroting was opbouend
# AfriForum wil hê plaasaanvalle moet as nasionale voorkeur-misdaad geklassifiseer word
# En die geregtelike ondersoek na die dood van Luthuli en Mxenge word heropen
# Die GOOD-party sê hy het ‘n opbouende dialoog met die ANC gehad oor die begrotingsdooiepunt. Die regering van nasionale eenheid is verdeeld, met die DA en die Vryheidsfront Plus wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se fiskale raamwerk verwerp weens die voorgestelde verhoging van komma-vyf-persentasiepunte in BTW. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê hulle glo die ANC is werklik daartoe verbind om alternatiewe bronne te vind om die BTW-verhoging te verhoed:
# AfriForum het ‘n dringende versoek aan die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, gerig om plaasaanvalle as voorkeurmisdaad te klassifiseer ingevolge die Wet op die Polisie. Die organisasie voer aan plaasaanvalle is uiters georganiseerd en gewelddadig en het ‘n uitwerking op nasionale bestendigheid, wat ondersoeke deur die Valke vereis. Jacques Broodryk van AfriForum vra ‘n toegewyde taakspan om landelike misdaad aan te pak en kwesbare boerderygemeenskappe te beskerm:
# KwaZulu-Natalse se direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, gaan die geregtelike ondersoek na die dood van die ANC-president, hoofman Albert Luthuli, en die anti-apartheidsaktivis en prokureur, Griffiths Mxenge, heropen. Luthuli, wat in 1960 die Nobelprys vir Vrede ontvang het, is in Julie 1967 dood. Volgens die amptelike verslag is hy by Groutville in KwaZulu-Natal deur ‘n trein getref. Die NVG se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê Mxenge se liggaam is in November 1981 op ‘n sportveld in Umlazi gevind:
# Die Verenigde Nasies sê meer as drie jaar na die Russiese inval in Oekraïne, ly Oekraïense burgerlikes steeds onder die verwoestende gevolge van die oorlog. In Maart is 164 Oekraïners dood en 910 beseer, ‘n styging van 50-persent in burgerlike ongevalle teenoor die vorige maand. Die VN se Menseregte-moniteringsending in Oekraïne sê onoordeelkundige aanvalle word ingevolge internasionale humanitêre wetgewing verbied. Hy sê die oorlog moet ingeperk word.
# Gholf: Die verdedigende Meesters-kampioen, Scottie Scheffler, speel saam met sy Amerikaanse landgenoot Justin Thomas en die Spanjaard Jose Luis Ballester wanneer die eerste major-toernooi van die jaar vandag op Augusta in Georgia afslaan. Rory McIlroy van Noord-Ierland, wat probeer om die sesde man te word om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi, is in dieselfde groep as Ludvig Aberg van Swede en die Amerikaner Akshay Bhatia. Drie Suid-Afrikaners is onder die 95 deelnemers: die voormalige kampioen, Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-36-sent teen die dollar, 21-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-71-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-117-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….