Nuus 11:00
BULLETIN 8 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die regering van nasionale eenheid sal onbestendig wees as dit oorleef
# Die Afrikanerbond is bekommerd oor SABC2 se verwydering van Afrikaanse nuus
# En krieket: Gary Stead bedank as Nieu-Seeland se witbal-afrigter
# Die politieke ontleder Daniel Silke sê as die regering van nasionale eenheid oorleef sal dit gebroke, onbestendig en relatief wisselvallig wees. Die krake is aan die verdiep terwyl die ANC en die DA van mekaar verskil oor die begroting. Silke sê eerder as om die DA uit te skop, sal die ANC uiteindelik toegee aan die eise van die privaat sektor om met die DA saam te werk om te verseker die regering stort nie in duie nie. Hy glo ‘n samehangende plan is nodig vir die koalisieregering om te slaag.
# Die Afrikanerbond is bekommerd oor die verdwyning van die Afrikaanse nuusbulletin die afgelope naweek sonder enige kommunikasie van die SABC oor die redes vir die besluit. Die SABC se Nuus op SABC2 het ‘n getroue gehoor van meer as 300-duisend kykers. Die Afrikanerbond se hoofsekretaris, Jan Bosman, sê die openbare uitsaaier het in Julie 2014 dieselfde stap gedoen, maar moes sy besluit herroep na druk van die burgerlike samelewing:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta moedig seuns aan om openlik te wees oor seksuele misbruik deur manlike onderwysers. Dit volg nadat ‘n voormalige Pretoriase onderwyser en skoolhoof, Martin Kotzé, verlede maand sy eie lewe geneem het nadat hy beskuldig is van die seksuele voorbereiding van jong seuns. Hy het glo vooraf skuld erken aan soortgelyke oortredings tydens ‘n skoolverhoor in Randburg. Makaneta sê dit is belangrik om ‘n veilige plek vir seuns te skep om mishandeling aan te meld sonder om skaam te wees:
# Die Verenigde Nasies sê skietstilstande raak broser en konflik meer onvoorspelbaar. Daarom moet vredespogings vinniger aanpas te midde van toenemende politieke spanning, verkeerde inligting en verwarring oor mandate. Volgens onlangse inligting is daar tans wêreldwyd minstens 150 gevalle van gewapende konflik wat die oorlog tussen Israel en Hamas insluit. Die VN se hoof van vredesoperasies, Jean-Pierre Lacroix, sê vredespogings kan wel gemonitor word, maar die sukses van enige skietstilstand hang slegs van die betrokke partye af:
# Krieket: Nieu-Seeland se hoofafrigter in al drie formate, Gary Stead, gaan uittree uit witbal-krieket wanneer sy kontrak in Junie verstryk. Hy het die Swartpette in 2021 tot hulle eerste Wêreldtoetskampioenskapstitel gelei en verlede jaar ‘n ongekende toetssege van drie-nul oor Indië behaal. Stead sê hy sal in die volgende paar weke besluit of hy weer gaan aansoek doen om die toetsspan af te rig. Rob Walter, wat pas bedank het as die Proteas se witbal-afrigter, word genoem as ‘n moontlike opvolger vir Stead.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-42-sent teen die dollar, 21-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-436-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-10-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….