Nuus 11:00
BULLETIN 28 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika versoek die EU om sy koolstofbelasting te heroorweeg
# Die African Congress for Transformation sê die Suid-Afrikaanse regbank word bedreig
# En die FBI ondersoek die skoolskietery in Minneapolis as ‘n haatmisdaad teen Katolieke
# Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het die Europese Unie versoek om sy beplande instelling van ‘n omvattende heffing op koolstof-intensiewe invoerprodukte te heroorweeg. Die EU se koolstof-aanpassingsmeganisme is ontwerp om vrystellings te verminder en seker te maak dieselfde bykomende belasting word op invoere gehef as op plaaslik-vervaardigde produkte wat baie koolstof vrystel. Die departement sê dit kan Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande se pogings kniehalter om klimaatsverandering te beveg. Afrika is die wêreld se 14de grootste bron van kweekhuisgasse.
# Die African Congress for Transformation sê die skorsing van die direkteur-generaal en adjunk-direkteur-generaal van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Doctor Mashabane en Jabu Hlatshwayo, wys die regbank is gekaap. Die party sê die vertragings in die Madlanga-kommissie toon die ANC gebruik ondersoeke as rookskerms om korrupsie te verberg en kaders te beskerm. Woordvoerder Mohau Khumalo waarsku dat president Cyril Ramaphosa nie die politieke wil het om korrupsie te beveg nie, en sê die gebroke regstelsel is verraad teen gewone mense:
Nuus uit die buiteland:
# Die FBI sê gister se noodlottige skietery by die Annunciation Catholic School in Minneapolis word as ‘n haatmisdaad teen Katolieke ondersoek. Twee kinders van agt en tien is dood en 17 mense gewond toe ‘n aanvaller tydens die mis losgebrand het. Die verdagte, geïdentifiseer as Robin Westman, is op die toneel dood nadat hy homself geskiet het. Minneapolis se polisie-hoof, Brian O’Hara, sê Westman het net voor die skietvoorval ‘n manifes op YouTube gepubliseer:
# Rugby: Die losvoorspeler Pete Samu is die eerste keer sedert 2023 terug in die Wallabies se groep vir die twee Rugbykampioenskaptoetse teen Argentinië. Die ervare stut Allan Alaalatoa en die losskakel Tom Lynagh is ook in afrigter Joe Schmidt se groep van 36 ingesluit. Die enigste nuweling is die Brumbies se skrumskakel, Ryan Lonergan. Schmidt sê dis teleurstellend om sommige spelers te verloor, maar hy is tevrede dat hulle die diepte in die groep kan bereik wat hulle probeer skep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-356-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-397-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Die gevierde Suid-Afrikaanse akteur, regisseur en draaiboekskrywer, John Kani, is nou ʼn lid van die toonaangewende Academy of Motion Picture Arts and Sciences se stemliggaam. Hierdie eksklusiewe groep kies elke jaar die Oscar-wenners. Kani en die fliekvervaardiger Anant Singh is die enigste Suid-Afrikaners wat tans lede van dié elitegroep is. Kani, wat wêreldwyd bekend is vir sy rolle in Black Panther en Mufasa van Disney, sê hy sal hierdie instelling met eerlikheid en integriteit dien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….