Nuus 11:00
BULLETIN 5 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika stel die Afrikaner-wet voor vir Afrikaner-vlugtelinge uit Suid-Afrika
# Eskom waarsku die kragnetwerk bly onder druk
# En padwedlope, Khoarahlane Seutloali van Lesotho en Suid-Afrikaner Gerda Steyn wen die 2025 Twee Oseane-marathon
# Die Amerikaanse kongreslid Troy Nehls het die Afrikaner-wet bekendgestel wat Prioriteit-2-vlugtelingstatus aan Suid-Afrikaanse Afrikaners toestaan. Die wetsontwerp sluit eggenote, kinders en ouers in. Dit volg nadat president Donald Trump die Onteieningswet, wat onteiening sonder vergoeding toelaat, gekritiseer en as ‘n menseregteskending beskryf het. Nehls sê sy wetsontwerp bied Afrikaners ʼn weg na veiligheid van regeringsgesteunde rassediskriminasie.
# Die burgerlike organisasie, Section27, is bekommerd dat sommige skole met puttoilette oor die hoof gesien is in die Departement van Basiese Onderwys se sanitasieveldtog. Dit volg nadat die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, daarop gewys het dat die proses om kinders se waardigheid te herstel sedert 2018 met 93-persent gevorder het. Section27-woordvoerder, Pearl Nicodemus, het aan Newzroom Afrika erken daar is vordering, maar sê daar is steeds gapings en vra dringende optrede om veilige sanitasie vir alle leerders te verseker:
# Die African Transformation Movement en MK Party bied vandag ʼn saamtrek by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane, Buffalo City, aan. ATM-president Vuyo Zungula, lede van die nasionale uitvoerende komitee, tradisionele leiers, geloofsgroepe en aktiviste sal dringende kwessies soos BTW-verhogings en geweld bespreek. ATM se nasionale woordvoerder, Zama Ntshona, sê die saamtrek wil progressiewe magte verenig en inspireer om saam te werk aan ʼn beter Suid-Afrika:
# Eskom waarsku die kragstelsel bly onder druk as gevolg van beplande instandhouding en groter aanvraag weens landwye gure weer. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokoena, sê ten spyte hiervan bly beurtkrag opgeskort omdat die netwerk stabiel en noodreserwes beskikbaar is. Mokoena sê drie-duisend-300 megawatt sal teen Maandagaand weer in diens gestel word. Dieselgebruik het jaar op jaar met 49,5-persent gedaal en daar is minder onbeplande kragonderbrekings.
# Padwedlope: Khoarahlane Seutloali van Lesotho het die 2025 Twee Oseane-marathon gewen toe hy die wenstreep by die Universiteit van Kaapstad se rugbyvelde ná 3 ure, 10 minute en 46 sekondes oorgesteek het. Seutloali het die uitmergelende ultra-roete van 56 kilometer teen ʼn bestendige pas aangepak en die eerste man van Lesotho geword wat die Twee Oseane sedert 2015 wen. Gerda Steyn het haar sesde oorwinning by die Twee Oseane-marathon opgeraap toe sy na 3 ure, 29 minute en 9 sekondes oor die wenstreep gedraf het.
# En ons sluit af met rugbynuus: Die Suid-Afrikaanse sewes-span het met 38-10 teen Groot-Brittanje verloor in hul eerste wedstryd by die Singapoer-sewes. Philip Snyman se span het die grootste deel van die wedstryd net ses spelers gehad nadat Sebastiaan Job in die tweede minuut ʼn rooikaart gekry het. Die Suid-Afrikaners, Zain Davids en Dewald Human, se twee drieë vergelyk ook swak met Groot-Brittanje se ses drieë en vier doelskoppe. Die Blitsbokke en Argentinië spook tans sake uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….