Nuus 11:00
BULLETIN 3 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie is bekommerd oor Amerika se 30 persent-tariewe
# Die Europese Unie sê die Amerikaanse tariewe is ‘n groot slag vir die wêreldekonomie
# En die VF Plus waarsku oor ‘n belastingboikot
# Die Presidensie is bekommerd oor die nuwe tariewe wat ingestel word op Suid-Afrikaanse uitvoere na Amerika. Suid-Afrika is een van 60 lande wat president Donald Trump uitgesonder het vir hoër tariewe. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die tariewe van 30-persent beklemtoon die dringendheid om ‘n nuwe bilaterale en wedersyds voordelige handelsooreenkoms met Amerika te beding om handelsekerheid in die lang termyn te verseker.:
Die Europese Unie sê intussen die tariewe is ʼn groot slag vir sakeondernemings en verbruikers wêreldwyd. Amerika stel ʼn algemene tarief van tien-persent in op alle invoere, en selfs hoër tariewe op 60 lande wat Suid-Afrika insluit. Dié lande het ʼn groot handelstekort met Amerika. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê hulle maak gereed vir verdere teenmaatreëls om Europa se belange en sakeondernemings te beskerm indien onderhandelinge misluk:
# Die Vryheidsfront Plus waarsku oor ‘n moontlike belastingboikot as daar verdere belastingverhogings is, maar geen ekonomiese groei en geen verbetering in dienslewering nie. Dit volg op gister se goedkeuring van die nasionale begroting in die Nasionale Vergadering, wat ’n omstrede verhoging van 0,5-persent in BTW insluit. Die VF Plus sê verhoogde belasting is teenproduktief en bloot ‘n desperate korttermynmaatreël wat uiteindelik die land dieper in ‘n finansiële krisis sal dompel.
# AfriForum sê die Stad Tshwane se nuwe omgewingsheffing, wat na verwagting 540-miljoen-rand aan bykomende inkomste sal inbring, is onbillik. Die maandelikse heffing van 194-rand-37 sent sal gehef word op eiendomme met ‘n waarde van meer as 250-duisend-rand sonder munisipale vullisverwyderingsdienste. Deidré Steffens van AfriForum sê eienaars wat opgehou het om die metro se vullisverwyderingsdiens te gebruik as gevolg van swak munisipale dienslewering, word nou met die beplande heffing geteiken:
# Rugby: Die Springbok-vroue speel in Julie twee toetse teen Kanada in Pretoria en Gqeberha as voorwedstryde vir die mans se toetse teen Italië. Kanada is tweede op die wêreldranglys en Suid-Afrika 12de. Die Bokvroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê die bevestiging van die toetse is wonderlik omdat hulle teen die wêreld se beste spanne moet speel om gereed te wees vir die Wêreldbekertoernooi. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die toetse sal die Springbok-vroue se groei en status vertoon.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-295-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-125-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….